Adirondack-gebergte

Whiteface Mountain, soos gesien vanaf Lake Placid-lughawe

Die Adirondack-gebergte is 'n bergreeks in die noordooste van die VSA-deelstaat New York, suid van die Sint-Laurensrivier. Alhoewel hulle deur die geograwe dikwels by die Appalagge-berge gereken word, maak hulle - vanuit 'n geologiese standpunt gesien - deel uit van die Laurentides-berge van Kanada.

Die Adirondacks word in die ooste deur die Champlainmeer en Georgemeer begrens, wat hulle ook van die Groen Berge in Vermont skei. In die suide word hulle begrens deur die Mohawkvallei en in die weste deur die Tug Hill-plato en die Blackrivier.

'n Groot gedeelte van die Adirondack-bergreeks lê in die Adirondack State Park, 'n natuurreservaat met 'n oppervlakte van 24 000 vierkante kilometer. Die park spog met 'n besondere bosreservaat van 9 300 vierkante kilometer, duisende riviere, spruite en mere, waarvan Lake Placid die mees bekende is. Dit lê digby die dorpie Lake Placid, wat reeds twee keer as gasheer van die Olimpiese Winterspele opgetree het.

In teenstelling met die Appalagge vorm die Adirondack-berge geen verbonde reeks nie, maar bestaan eerder uit talle bergspitse, wat geïsoleer of in groepe sonder enige skynbare orde verrys. Daar is altesaam sowat honderd pieke met hoogtes tussen 370 en 1 500 meter. Die hoogste berg, Mount Marcy (wat soms ook Tawahus genoem word), verrys naby die oostelike deel van die groep met 'n hoogte van 1 629 meter. Ander bekende bergspitse sluit Algonquin Peak (vroeër Mount McIntyre) met 1 559 meter, Haystack met 1 512 meter, Skylight met 1 501 meter, Whiteface met 1 485 meter, Dix met 1 480 meter en Giant met 1 410 meter in.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy