Anglisisme

'n Anglisisme in Afrikaans is 'n woord, uitdrukking of sinskonstruksie wat uit Engels kom of direk onder invloed van 'n Engelse woord, uitdrukking of sinskonstruksie ontstaan het, wat anders is as normale Afrikaans. Suiwer taalkundig gesproke is 'n anglisisme nie iets wat noodwendig vermy moet word nie, maar weens Afrikaans se taalstryd van die afgelope eeu teen Engelse invloed word anglisismes in Afrikaans gewoonlik omskryf as iets wat suiwer Afrikaans in die gevaar stel of wat uit standaard-Afrikaans geweer moet word.

Die hantering van anglisismes in Afrikaans is dikwels subjektief en onwetenskaplik. Boonop is die kwessie van anglisismes vir baie Afrikaanssprekendes 'n emosionele of patriotistiese saak. Soms word barbarismes wat mettertyd algemeen in Afrikaans ingang vind, selfs deur taalkundiges nie as "anglisismes" beskryf nie. Soms word uitdrukkings wat bloot lyk soos Engels, maar nie werklik uit Engels kom of onder invloed van Engels ontstaan het nie, as "anglisismes" gereken. Die feit dat 'n bepaalde gebruik wel anglisisties is, lei soms daartoe dat sprekers uit onkunde ook die korrekte gebruik van dieselfde woord vermy of as 'n anglisisme beskou.

Verskillende gesaghebbende bronne definieer "anglisisme" verskillend, maar in die meeste gevalle word 'n anglisisme beskou as iets waarvan daar die gevaar is dat dit mettertyd sal veroorsaak dat 'n meer tradisionele uitdrukking in onbruik val. Dit blyk veral uit die gebruik van woorde soos "strydig", "verdring", "indringer" en "gewraakte" om anglisismes mee te beskryf. Vir baie mense is iets slegs 'n "anglisisme" as dit sleg is. Daar is selfs taalkundiges wat meen dat indien 'n bepaalde gebruik wel uit Engels kom, maar dit nie 'n bestaande woord of uitdrukking verdring nie of indien dit 'n huidige leemte vul, dit nie 'n "anglisisme" is nie.

Sommige mense beskou idiomatiese uitdrukkings waarvan daar 'n soortgelyke vorm in Engels voorkom, en waarvoor daar 'n alternatief bestaan of uitgedink kan word wat nie soos die Engels lyk nie, ook as anglismes. Dit lei soms tot verryking van die taal wanneer uitdrukkings doelbewus geskep word om in die plek van vermeende anglisismes gebruik te word (bv. "oortjies van die seekoei" i.p.v. "punt van die ysberg") of om die Engelse vorm te probeer vermy, selfs al word dit in ander Wes-Germaanse tale geleenvertaal (bv. "voetsoolvlak" i.p.v. "graswortelvlak").

Afrikaanssprekendes is oor die algemeen meer bewus van anglisismes as sprekers van ander tale omdat Suid-Afrika 'n meertalige land is waarin Engels en Afrikaans voortdurend noue kontak met mekaar het. Die meeste internasionale nuus en tegnologie kom Suid-Afrika binne deur die medium van Engels, en aangesien heelwat Afrikaanssprekers grotendeels volledig tweetalig is, word dié inligting dikwels deur nieberoepsvertalers uit Engels in Afrikaans vertaal, wat daartoe lei dat Afrikaans voortdurend onder druk van Engelse terme, segswyses en sinsbou staan.

Leenwoorde en leenvertalings is nie anglisismes nie, aangesien dit normale Afrikaans is om woorde te leen (bv. "garage") of te leenvertaal (bv. "grondeienaar" n.a.v. "land owner"). Iets is slegs 'n anglisisme as dit afwyk van normale Afrikaans of die manier waarop die taalkundige verskynsel normaalweg in Afrikaans hanteer word. Metafore, vergelykings en spreekwoorde wat soortgelyk is aan Engels is dikwels ook nie anglisismes nie.

Onkunde en opset is nie relevant nie: indien 'n spreker daarvan onbewus is dat iets uit Engels kom, of die uitdrukking by ander Afrikaanssprekers geleer het (bv. ouers, vriende, media, skool), of dit nie sélf uit Engels vertaal het nie, kan dit nog steeds 'n anglisisme wees.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy