Bamako

Bamako


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Mali Mali
 Administratiewe gewes Bamako
 Koördinate 12°39′N 08°00′W / 12.650°N 8.000°W / 12.650; -8.000
 Stigting 16de Eeu
 Hoogte bo seevlak 350 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2006) 1 342 519
 - Metropolitaanse gebied 1 690 471
 Tydsone UTC +0
 Burgemeester (party) Adama Sangaré

Bamako is die hoofstad en, met 'n bevolking van ongeveer 1 342 519 (2006), ook die grootste stad van Mali. Dit is geleë aan die Nigerrivier, in die suidwestelike deel van die land. Bamako is die land se administratiewe sentrum, sowel as 'n rivierhawe en belangrike streekshandelsentrum. Vervaardigde produkte sluit tekstiel, verwerkte vleis en metaalgoedere in. Daar vind ook kommersiële visvangs op die Nigerrivier plaas.

Die stadsgebied word reeds sedert die Paleolitiese tydperk bewoon, alhoewel Bamako volgens 'n plaaslike legende in die 17de eeu deur Seribadian Niaré en Soumba Coulibaly, of Bamba Sanago gestig is,[verwysing benodig] voor die hoofmanskap na Diaoussadian Niaré oorgegaan het. Die stad was 'n belangrike markdorp en 'n leidende sentrum van Moslemstudie in die Mali-Ryk, maar teen die 19de eeu het dit agteruit gegaan. In 1883 is die omgewing deur Franse troepe beset, en in 1908 het Bamako die hoofstad van Frans-Soedan geword. Die stad se bevolking het vinnig gegroei: in 1960 was Bamako se bevolking ongeveer 160 000.

Noemenswaardige landmerke in Bamako sluit die Nasionale Biblioteek van Mali, die BCEAO-toring, die Groot Moskee van Bamako, en die Koning Fahd-brug in. Die stad is die tuiste van Mali se grootste internasionale lughawe, sowel as die Dakar-Niger-spoorlyn, na Koulikoro in oostelike Mali en Dakar in Senegal. Besienswaardighede sluit die Mali Nasionale Museum, die Muso Kunda Museum, die Bamako Streeksmuseum, Bamako Dieretuin en die Bamako Botaniesetuin in, asook die Point G-heuwel, wat grotte met rotstekeninge bevat. Bamako tree sedert 1994 op as gasheer vir die twee-jaarlikse fotografiefees, African Photography Encounters.

In 1988 was Bamako die gasheer vir 'n WGO-kongres bekend as die Bamako-inisiatief, wat gehelp het om gesondheidsbeleid in Afrika suid van die Sahara te hervorm.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy