Bangladesj

Bangladesj (Bengaals: বাংলাদেশ, Bāṃlādēśa, [ˈbaŋlad̪eʃ], ; letterlik "die nasie van Bengale"), amptelik die Volksrepubliek Bangladesj (গণপ্রজাতন্ত্রী বাংলাদেশ, Gaṇaprajātantrī Bāṃlādēśa), is 'n digbevolkte land in Suid-Asië in die streek Bengale. Dit beslaan 'n oppervlakte van 148 460 km² en het 'n bevolking van sowat 170 miljoen in 2024 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Dhaka (of Dakka), ander groot stede sluit in Chittagong in die suidooste en Khulna in die suidweste. Die amptelike taal is Bengaals, die belangrikste etniese groep is die Bengale en die plaaslike geldeenheid is die taka (৳, tk). Die land lê aan die Golf van Bengale in die Indiese Oseaan, maar word origens heeltemal deur Indië omring, behalwe vir die suidoostelike hoek, wat aan Mianmar (Birma) grens. Net noordwes van Bangladesj is Nepal en noord is Bhoetan geleë, maar al drie lande word deur 'n smal Indiese strook van mekaar geskei. Die Ganges-Brahmaputra-vloedvlakte is die oorheersende geografiese kenmerk van die land. Bangladesj het tussen 1858 en 1947 deel uitgemaak van Brits-Indië en met die Verdeling van Indië het dit deel geword van Pakistan. In 1952 het die Bengaalse Taalbeweging begin en in 1971 het die provinsie met Indiese ondersteuning die Bengaalse Onafhanklikheidsoorlog teen Pakistan begin. Op 26 Maart 1971 het Bangladesj sy onafhanklikheid van Pakistan verklaar en met die grondwet op 4 November 1972 'n unitêre parlementêre republiek geword. Bangladesj is 'n lidland van die Britse Statebond met 'n president as staatshoof. Sedert sy onafhanklikwording in 1971 beleef Bangladesj armoede, hongersnood, politieke onrus en militêre staatsgrepe. Die herstel van demokrasie in 1991 het verligting gebring, maar die land het steeds met baie uitdagings te kampe, veral die jaarlikse vloede en siklone.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in