Bek-en-klouseer

Bek-en-klouseer
Klassifikasie en eksterne bronne
Gebarste blaas in die bek van 'n koei met bek-en-klouseer
Gebarste blaas in die bek van 'n koei met bek-en-klouseer
ICD-10 B08.8 (ILDS B08.820)
ICD-9 078.4
DiseasesDB 31707
MeSH D005536
Mediese waarskuwing

Bek-en-klouseer (Latyn: Aphtae epizooticae), is 'n hoogs aansteeklike- en soms noodlottige virussiekte wat beeste en varke opdoen. Dit kan ook wildsbokke, bokke, skape en ander gesplete hoefdiere besmet en ook olifante en rotte.

Friedrich Loeffler het in 1897 vir die eerste keer uitgewys dat die siekte se oorsaak 'n virus was. Hy het die bloed van 'n besmette dier deur 'n fyn porseleinfilter gestuur en gevind dat die oorblywende vloeistof steeds die siekte in gesonde diere veroorsaak. Dit beteken dat die oorsaak van die siekte onsigbare klein patogene moet wees, omrede hulle nie deur die porseleinfilter verwyder kon word nie.

Bek-en-klouseer kom regdeur die wêreld voor en terwyl sommige lande vir 'n redelike lang tyd vry was van die siekte, bly die siekte steeds 'n bron van kommer vanweë sy wye gasheerbasis en vinnige verspreiding. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog was die siekte wyd oor die wêreld versprei. In 1996 het endemiese gebiede Asië, Afrika en dele van Suid-Amerika ingesluit. Nieu-Seeland het nog nooit 'n uitbraak van bek-en-klouseer gehad nie.[1]

Die meeste Europese lande word as vry van die siekte beskou en die lidlande van die Europese Unie het hul inentingsprogramme gestaak.

In 2001 was daar egter 'n ernstige uitbraak van bek-en-klouseer in Brittanje gewees wat daartoe gelei het dat baie diere van kant gemaak is, dat die verkiesing uitgestel is en vele sportgeleenthede is ook gekanselleer. Vanweë streng regeringsbeleid op die verkoop van lewende hawe, die ontsmetting van alle mense wat plase betree of verlaat het, is 'n potensieel rampspoedige epidemie in die Republiek van Ierland vermy. In Augustus 2007 is bek-en-klouseer gevind by twee plase in Surrey in Engeland. Alle lewende hawe is van kant gemaak en 'n kwarantyn is oor die hele gebied bekragtig.

Daar is sewe verskillende soorte bek-en-klouseer serotipes: O, A, C, SAT-1, SAT-2, SAT-3 en Asië-1. Hierdie serotipes toon 'n mate van streeksgebondenheid en die O serotipe is die algemeenste.

Die algemene ontkiemingstyd vir die bek-en-klouseervirus wissel maar is gewoonlik tussen 3 - 8 dae.[2] Die siekte word gekenmerk deur 'n hoë koors wat vinnig afneem na twee of drie dae; blase in die bek wat lei tot oormatige afskei van skuimagtige speeksel en 'n gekwyl en ook blase op die pote wat kan bars en lamheid tot gevolg kan hê.

Volwasse diere kan gewigsverlies ondergaan waarvan hulle vir verskeie maande lank nie sal herstel nie en bulle kan geswolle testikels hê. Koeie se melkproduksie kan ook beduidend verminder. Hoewel die meeste diere uiteindelik herstel van bek-en-klouseer kan die siekte lei tot miokarditis (inflammasie van die hartspier) en die dood, veral by pasgebore diere. Sommige besmette diere bly asimptomaties -- dit wil sê hulle toon geen tekens van die siekte nie. Sulke diere kan egter die siekte oordra aan ander diere.

Bek-en-klouseerbesmetting neig om plaaslik voor te kom -- dit wil sê, die virus word oorgedra aan vatbare diere deur direkte kontak met besmette diere of besmette stalle of voertuie wat vir die vervoer van lewende hawe gebruik word. Die klere en vel van mense wat diere hanteer, stilstaande water en ongekookte voedselreste en byvoedings wat besmette dierprodukte bevat kan ook die virus oordra. Beheermaatreëls sluit kwarantyn en die vernietiging van besmette lewende hawe en die verbod op uitvoere van vleis en ander produkte na lande wat nie met die siekte besmet is nie.

Gebarste blase op die pote van 'n vark met bek-en-klouseer

Bek-en-klouseer word veroorsaak deur 'n Aphthovirus uit die Picornaviridae virusfamilie. Die lede van die familie is klein (25-30nm), nie-omvoude ikosahedrale virusse wat 'n enkele string RNS (ribonukleoësuur, die genetiese materiaal van 'n virus) bevat. Wanneer so 'n virus in kontak kom met 'n gasheersel, bind dit aan 'n reseptorvlak en ontketen 'n invouing van die selmembraan. Wanneer die virus die gasheersel binnegedring het, los sy proteïenhulsel op. Nuwe virus-RNS en komponente van die proteïenhulsel word dan gesintetiseer in groot hoeveelhede en saamgestel om nuwe virusse te vorm. Na samestelling bars die gasheersel en stel die nuwe virusse vry.

Mense kan besmet word met bek-en-klouseer deur kontak met besmette diere, maar dit gebeur bitter selde. Omdat die virus wat bek-en-klouseer veroorsaak sensitief is vir maagsuur, kan dit nie na mense versprei word deur die eet van besmette vleis nie. In die Verenigde Koninkryk het die laaste menslike geval in 1967 voorgekom en slegs 'n handjievol ander gevalle is al aangeteken in die res van Europa, Afrika en Suid-Amerika. Simptome van bek-en-klouseer in mense sluit in ongesteldheid, koors, braking, rooi sweeragtige letsels van die mondweefsel en soms klein blase op die vel.

Daar bestaan 'n ander virussiekte met soortgelyke simptome, wat algemeen bekend staan as "hand-voet-en-mondsiekte", wat meer dikwels in mense voorkom, veral by jonger kinders; hierdie siekte is egter nie verwant aan bek-en-klouseer nie en word deur 'n ander virus veroorsaak (die virus behoort aan die Picornaviridae virusfamilie). Omdat bek-en-klouseer selde mense besmet, maar vinnig onder diere versprei, is dit 'n veel groter risiko vir die landboubedryf as vir menslike welsyn. Boere die wêreld oor kan groot hoeveelhede geld verloor tydens bek-en-klouseerepidemies, wanneer groot hoeveelhede diere vernietig word en die opbrengs uit melk en vleis daal.

  1. Amptelike nuusvrystelling deur die Nieu-Seelandse regering Geargiveer 29 Junie 2020 op Wayback Machine, Laas nagegaan op 2007-08-06
  2. Bek-en-klouseer artikel van Farmers Weekly in Brittanje Geargiveer 8 Julie 2008 op Wayback Machine, Artikeldatum = 04-08-2007, laas nagegaan op 2007-08-06

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy