Cobh

Cobh

An Cóbh

Queenstown (1850-1920)
Dorp
Amptelike seël van Cobh
Seël
Cobh is in Ierland
Cobh
Cobh
Koördinate: 51°51′N 8°18′W / 51.850°N 8.300°W / 51.850; -8.300
LandVlag van Republiek Ierland Ierland
ProvinsieMunster
GraafskapCork
Hoogte
47 m (154 ft)
Bevolking
 • Totaal6 500
TydsoneUTC+00:00 (MGT)
 • SomertydUTC+01:00 (IST)
Webwerfcobh.ie

Cobh [ˈkoʊv], Iers: an Cóbh, tussen 1850 en 1920 Queenstown, is 'n gewilde toeristeoord en seehawe aan die suidkus van die graafskap Cork, Republiek Ierland.

Die kunstenares Jeanne Rynhart se standbeeld ter ere van Annie Moore en haar broers. Annie Moore was die eerste immigrant wat die Verenigde State op 1 Januarie 1892 deur die nuwe immigrasiesentrum op Ellis Island, New York binnegekom het

Cobh is aan die suidelike kant van Great Island ("Groot Eiland") in Cork-hawe geleë wat as een van die beste natuurlike seehawens ter wêreld beskou word.[1] Die dorp het op heuwels ontstaan wat 'n soort amfiteater vorm. Danksy die passasierskepe, wat hier gereeld by Ierland se enigste groot terminaal vir groot skepe in die middestad van Cobh aandoen, word die hawestad jaarliks deur byna 100 000 passasiers en bemanningslede besoek.

Die lang seevaarttradisie, maar ook Cobh se geskiedenis as die hawe waar groot getalle emigrante (na ramings sowat 2,5 miljoen) hul seereis na oorsese bestemmings begin het, maak van die hawe 'n gewilde toeristetrekpleister. Die dorp met sy Georgiaanse argitektuur, sy straatrooster en hawehowe het feitlik onveranderd gebly sedert die luukse skip RMS Titanic op sy noodlottige nooiensvaart in April 1912 van hier as sy laaste Europese hawe vertrek het nadat 123 Ierse passasiers aan boord gegaan het. Slegs 44 van hulle het die seeramp oorleef.

Sommige besienswaardighede, soos Titanic Experience en die historiese toer op die spore van dié befaamde White Star Line-skip, fokus op die Titanic. Die historiese White Star Line-hawehoof is tans in verval, maar kan nog besigtig word.

Die hawe se naam het sy eie lang geskiedenis. Verskeie Ierse name was in gebruik voordat die hawe in 1750 vir die eerste keer sy Engelse naam Cove ("The Cove of Cork") gekry het. In 1850 is dit, ter herdenking van 'n besoek wat koningin Victoria aan die hawe gebring het, hernoem tot Queenstown. Dié naam was sewentig jaar lank in gebruik voordat die hawe volgens 'n besluit van die owerheid van die nuwe Ierse Republiek in 1920 sy huidige naam gekry het. Cobh is slegs 'n Ierse skryfwyse van die Engelse naam Cove en het geen betekenis in die Ierse taal nie.

  1. Cobh Online: History of Cobh

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy