Cypriniformes

Cipriniformes
Tydperk: Paleoseen – onlangs
Rhodeus sericeus
Scardinius erythrophthalmus
Wetenskaplike klassifikasie
Domein:
Koninkryk:
Filum:
Subfilum:
Infrafilum:
Superklas:
Klas:
Subklas:
Infraklas:
Superorde:
Orde:
Cypriniformes
Families

Cypriniformes is vis-orde wat hoort tot die klas Actinopterygii. Die orde bevat slegs families wat voorkom in brak en varswater.

Die Karperagtiges (orde Cypriniformes) is die algemeenste varswatervisse ter wêreld. Wat liggaamsvorm en lewenswyse betref, het hulle hulle by 'n wyd uiteenlopende aantal omstandighede aangepas, en kom hulle wydverspreid oor die hele wêreld voor. Een gemeenskaplike kenmerk van byna alle karperagtiges is hul besondere skerp gehoorvermoë. Die Karperagtiges (orde Cypriniformes) vorm saam met die meervalle (orde Siluriformes) die superorde Ostrariophysi.

Cyprinus carpio

Visse van hierdie superorde word van alle ander visgroepe onderskei op grond van die sogenaamde beentjies van Weber wat hulle het. Dit bestaan uit vier beenstukkies wat die vis se inwendige oor met sy swemblaas verbind. Geluidstrillinge in die water word deur die wand van die swemblaas opgevang, deur die beentjies versterk en na die oor oorgedra. As gehoorgevolg van hierdie beentjies van Weber kan alle karperagtiges en meervalle besonder goed hoor.

In modderige, troebel water gebruik die visse hierdie beentjies nie soseer wanneer hulle 'n prooi probeer vang nie, maar eerder vir kommunikasie binne die skool en vir die opspoor van 'n maat. Baie karperagtiges en meervalle beskik boonop oor baarddrade en ander tas- en smaaksintuie waarmee hulle die verskil tussen nou verwante visspesies kan onderskei. Dit is waarskynlik een van die redes waarom karperagtiges een van die talrykste varswatervisse geword en so wyd oor die hele wêreld versprei het.

Ander kenmerke van karperagtiges is die enkele betreklik lang rugvin, die buikvinne wat taamlik ver na agter geplaas is, en stertvinne wat dikwels gevurk is. In die bek self is daar gewoonlik geen tande nie, maar in die keelholte kom daar dikwels een tot drie rye tande voor. Afgeronde skubbe bedek die senuweeliggaam geheel en al of net gedeeltelik. In Suider-Afrika kom veral vyf families van die karperagtiges voor, byvoorbeeld die Characidae, wat ook karasinne genoem word.

Die tiervis (Hydrocynus vittatus), die imberi (Afestes imberi,) die streeprower (Alestes lateralis) en die Okavango-rower (Rhabdaletes maunnensis) word onder meer by die familie ingesluit. Die Hepsetidae of Afrikaanse greepvisse word deur net een spesie verteenwoordig, die Hepsetus ordoe, terwyl die Distichodontidae familie deur twee spesies, die bekende nkupe (Distichodus mossambicus) en die chessa (Distichodus schenga) verteenwoordig word.

Die familie Citharinidae is nou verwant aan die vorige familie, en die dwergsitarien (Hemigrammocharax machadoi) en die breëbalk-sitarien (Nannocharax macropterus) word hierby ingesluit. Die grootste familie onder die karperagtiges, plaaslik asook wêreldwyd, is die Cyprinidae, waaronder talle geelvisse, ghieliemientjies en rooivlerkies tel. In Suider-Afrika word hierdie familie sterk verteenwoordig deur die genera Barbus en Labeo. Die gewone goudvis (Carassius auratus) en die karper (Cyprinus carpio) is lede van hierdie groot familie.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy