Dagboek

Die geheime dagboek van Friedrich Kellner.
Die oorspronklike dagboek van Anne Frank, te Anne Frank Zentrum, Berlyn.

'n Dagboek is 'n opname (gewoonlik in handgeskrewe vorm) van inskrywings wat volgens datum ingedeel word wat terugvoering gee oor gebeurtenisse binne 'n dag of ander tydperk. 'n Persoonlike dagboek kan die weergee van iemand se ervaringe, denke, idees en gevoelens insluit en is daarom 'n egodokument. Dit kan ook kommentaar lewer oor gebeurtenisse wat die skrywer nie regstreeks raak nie. Iemand wat dagboeke skryf staan bekend as 'n dagboekhouer of dagboekskrywer. 'n Dagboekskrywer kan namens 'n ander persoon ook dagboek byhou. Dagboeke binne organisasies speel 'n belangrike rol, soos te sien binne regerings, algemene grootboeke en militêre diensrekords.

Vandag word die term "dagboek" meestal gebruik vir persoonlike dagboeke wat gewoonlik bedoel is om privaat te bly of tot vriendskaplike mededeling beperk te word. Daarom is daar party wat van 'n slot voorsien word. Die woord "joernaal" word ook soms gebruik vir "dagboek", maar gewoonlik het 'n dagboek dag-tot-dag-inskrywing, terwyl 'n joernaal weer meestal om één belangrike gebeurtenis draai en die skrywery aaneenlopend geskied.

'n Dagboek kan wel inligting verskaf vir gedenkskrifte, outobiografie of biografie, maar word gewoonlik nie geskryf met die doel om uitgegee te word nie, omrede dit vir die skrywer se eie gebruik is. Die doel van 'n dagboek wissel natuurlik van skrywer tot skrywer.

Dagboek omvat sowel gedrukte, geskrewe of elektroniese inskrywings, soos webjoernale.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy