Diskordansie

Hutton's Unconformity by Jedburgh, Skotland, geïllustreer deur John Clerk in 1787, en gefotografeer in 2003.

Wanneer daar in die geologiese geskiedenis van 'n bepaalde gebied 'n tydperk bestaan waarin geen gesteentelae afgeset word nie, of daar selfs lae deur erosie verwyder word ontstaan 'n onderbreking of gaping in die opeenvolging van die lae. Hierdie onderbreking staan bekend as 'n diskordansie.

Lae wat sonder onderbreking afgeset is, volg konkordant op mekaar As daar egter 'n onderbreking plaasvind, lê hulle diskordant op mekaar, As die lae voor die onderbreking en dié wat daarna afgeset is, parallel bo-op mekaar lê word gepraat van diskonformiteit. Bestaande lae kan egter gekantel of geplooi word (soos gedurende bergvorming) voordat nuwe lae horisontaal op die versteurde lae geset word, dan word 'n hoekige klinodiskordansie gevorm, Die vlak tussen die lae, wat ouer is as die diskordansie en die lae wat later afgeset word, staan bekend as die diskordansievlak, Wanneer 'n diskordansie van beperkte omvang is en heel lokaal voorkom, word dit 'n diastema genoem,

Diskordansies word gewoonlik soos volg gevorm:

'n Sedimentêre kom (gewoonlik 'n meer of see) word geleidelik gevul deur die afsetting van sedimentêre materiaal soos rolstene, sand en klei. Hierdie materiale word in horisontale lae afgeset. As gevolg van afwaartse kragte in die aardkors word die kom steeds dieper en meer sedimentêre materiaal kan afgeset word, sodat daar soms tot 'n baie groot dikte lae konkordant op mekaar volg,

Wanneer die afwaartse krag verdwyn, begin die lae opwaarts beweeg, dikwels tot ver bo seevlak om bergreekse te vorm, In die proses word die lae gekantel en geplooi. Deur die proses van erosie word berge nou geleidelik afgeërodeer totdat 'n plat vlak, bekend as 'n skiervlakte (skier=amper), gevorm word, Wanneer hierdie vlakte nou weer oorstroom word, hetsy deur daling van die land of deur styging van die seevlak, vind transgressie plaas en word nuwe sedimentêre gesteentes op die ouer gesteente afgeset. Die eerste sedimente wat afgeset word, is gewoonlik rolstene, dit wil sê rotsfragmente wat deur riviere en golwe afgerond is. Hierdie rolsteenlaag vorm nou 'n basale konglomeraat in die nuwe opeenvolging van lae. So 'n basale konglomeraat is ook dikwels 'n goeie aanduiding dat daar 'n diskordansie bestaan. Die aanwesigheid van 'n diskordansie kan ook vasgestel word deur onderbreking in die fossielrekord of deur konsentrasies van fossielreste in een laag.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy