Dwelmonttrekking

Dwelmonttrekking, dwelmonttrekkingsindroom of middelonttrekkingsindroom[1] is die groep simptome wat voorkom met die skielike staking of verminderde gebruik van genees- of dwelmmiddels.

Onttrekking kom voor wanneer ’n vorm van afhanklikheid ontwikkel het. Dit kan óf ’n fisieke óf ’n sielkundige afhanklikheid wees, of albei. Dwelmafhanklikheid ontstaan met die langdurige gebruik van een of meer middels.

Die afhanklikheid wissel van middel tot middel. Die langdurige gebruik van ’n antidepressant sal byvoorbeeld waarskynlik ’n heel ander reaksie ontketen wanneer die gebruik daarvan gestaak word as met ’n opioïed soos heroïen. Onttrekkingsimptome van opiate sluit in angs, sweet, vomering en diarree. Alkoholontrekkingsimptome sluit in irriteerbaarheid, moegheid, bewing en naarheid. Onttrekking van nikotien kan irriteerbaarheid, moegheid, slaaploosheid, hoofpyn en probleme met konsentrasie veroorsaak. Baie voorgeskrewe en nievoorgeskrewe middels kan ook onttrekkingsimtome veroorsaak wanneer gebruik gestaak word, al is hulle gebruik volgens die aanwysings van ’n dokter.

Die manier van toediening, soos binneaars, per mond, ensovoorts, kan ook ’n rol speel in die felheid van die simptome. Daar is ook verskillende stadiums van onttrekking: Die persoon sal eers sleg en daarna nog slegter begin voel, dan ’n plato bereik en daarna beter begin voel. Die onttreking van sekere middels (barbiturate, bensodiasepiene, alkohol en glukokortikoïede) kan dodelik wees. Hoewel onttrekking van opiate (en sommige ander dwelms) selde dodelik vir die gebruiker is, kan dit ’n miskraam veroorsaak. Die Engelse term cold turkey word gebruik vir skielike onthouding van alle dwelms en die gevolglike fisiologiese manifestasies.

Die simptome kan nog erger wees as die middel langdurige ondervoeding, siektes, chroniese pyn, infeksies (algemeen by binneaarse dwelmgebruik) of slaapafwykings verbloem het – toestande wat dikwels voorkom as ’n sekondêre gevolg van dwelmmisbruik en met onttrekkingsimptome verwar kan word.

  1. "MeSH Browser". meshb.nlm.nih.gov. Besoek op 7 Februarie 2020.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy