’n Eunug is ’n gekastreerde man, gewoonlik een wat vroeg genoeg gekastreer is sodat dit aansienlike hormonale gevolge sou hê. Die term word gewoonlik gebruik vir mans wat gekastreer is sodat hulle spesifieke sosiale funksies kon verrig, soos wat histories in baie gemeenskappe algemeen was.
Deur die eeue het hulle verskeie funksies in verskillende gemeenskappe verrig: as huiswerkers, kastraatsangers (soprane), godsdienstige spesialiste, regeringsamptenare en militêre aanvoerders. In kulture wat harems gehad het, is hulle dikwels as bediendes en wagte gebruik. Eunugs, is geglo, het nie enige lojaliteit teenoor die militêre, die aristokrasie of ’n familie gehad nie (hulle het ten minste nie kinders en skoonfamilie gehad nie), en was dus meer betroubaar.
Soms het hulle hoë posisies gehad omdat hulle direkte toegang tot ’n heerser gehad het deur byvoorbeeld sy bed op te maak, sy hare te sny, hom te bad en boodskappe te dra. In die Ottomaanse Ryk was die swart hoof-eunug byvoorbeeld net onder die hoofminister wat toegang tot en die vertroue van die sultan betref het.
Die woord "eunug" kom van die Griekse eune ("bed") en ekhein ("oppas"), dus "bedoppasser".
Volgens Assiriese wetgewing was homoseksuele dade strafbaar met kastrasie.[1][2] Eunugs was algemeen in die Assiriese Ryk van omstreeks 850-622 v.C. en in die howe van Egiptiese farao's (tot met die bewind van Cleopatra van die Ptolemeïese Ryk, tot 30 v.C.). Eunugs is soms aangestel as regent vir minderjarige aanspraakmakers op die troon.[3]
Die praktyk was ook algemeen in ander Middellandse See-gebiede onder die Grieke en Romeine, hoewel hulle rol as hofamptenare eers in die Bisantynse tyd begin het. Die priesters van die Griekse godin Kibele was ook eunugs. In die laat periode van die Romeinse Ryk, ná die aanvaarding van die Oosterse koninklikehofmodel deur keisers Diocletianus en Konstantyn die Grote, was die keisers omring deur eunugs wat hulle gebad, hulle hare geknip en hulle aangetrek het. Hulle is beskou as lojaal en onvervangbaar.
In China het kastrasie die verwydering van die penis én testikels beteken. Dit is terselfdertyd met ’n mes afgesny.[4][5][6] Eunugs kom sedert sowat 4 000 jaar gelede in China voor, was keiserlike dienaars sedert 3 000 jaar gelede en was algemeen as staatsdiensamptenare teen die tyd van die Qin-dinastie.[7][8] Van hierdie antieke tye tot met die Sui-dinastie was kastrasie beide ’n tradisionele straf en ’n manier om in keiserlike diens geneem te word. Sekere eunugs het groot mag gekry wat soms selfs dié van hoë amptenare oortref het. Selfkastrasie was ’n algemene praktyk. Dit is egter nie altyd volledige uitgevoer nie en was later onwettig.
In die Ottomaanse Ryk was eunugs gewoonlik slawe wat van elders gebring is. ’n Taamlike deel van manlike slawe was eunugs.[9] Die keiserlike harem in die Topkapi-paleis (1465-1853) en later die Dolmabahçe-paleis (1853-1909) in Istanboel was onder administrasie van eunugs. Daar was twee kategorieë: swart en wit eunugs. Swart eunugs was slawe van Afrika wat die byvroue en amptenare in die harem bedien het. Wit eunugs was Europeërs van die Balkan of Kaukasus wat óf op die swartmark gekoop is óf seuns wat uit Christelike families geneem is wat nie hulle belasting kon betaal nie. Hulle is van 1582 af verbied om in die harem te kom.
Eunugs is dikwels in die keiserlike paleise van Moslemheersers in diens geneem as bediendes van adellike vroue, as wagters van die harem en as seksmaats vir die adellikes. Van hulle het ’n hoë posisie in die gemeenskap gehad. Hulle was in ’n hiërargie georden, dikwels met ’n senior of hoofeunug en ’n groep junior eunugs onder hom. Hulle is toegelaat om tussen vroue te woon en kon dus boodskappers, oppassers, bediendes en paleiswagte wees. Hulle het dikwels ook deel uitgemaak van die koning se raadgewers.[10][11]