Eurypterida

Eurypterida
Tydperk: Ordovisium-Laat Perm, 467.3–251.9 m. jaar gelede
’n Fossiel van Eurypterus remipes (Staatsmuseum van Natuurgeskiedenis, in Karlsruhe, Duitsland).
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Subfilum:
Klas:
Orde:
Eurypterida

Burmeister, 1843
Subordes
  • †Stylonurina Diener, 1924
  • †Eurypterina Burmeister, 1843
Sinonieme
  • Gigantostraca Haeckel, 1866
  • Cyrtoctenida Størmer & Waterston, 1968

Die euripterides (orde Eurypterida, dikwels informeel seeskerpioene genoem) is ’n groep uitgestorwe geleedpotiges. Die vroegs bekende euripterides dateer van die tydsnede Darriwilium van die periode Ordovisium, sowat 467,3 miljoen jaar gelede.

’n Voorstelling van Pentecopterus, die vroegste bekende euripteride.

Die groep het waarskynlik in die vroeë Ordovisium of laat Kambrium hulle verskyning gemaak. Daar was sowat 250 spesies en dus was Eurypterida die uiteenlopendste Paleosoïese orde van die subfilum Chelicerata. Ná hul verskyning het euripterides gedurende die Siluur ’n groot deel uitgemaak van die seedierelewe, waarvan die meeste spesies beskryf is. Die genus Eurypterus uit die Siluur maak meer as 90% van alle bekende spesimens uit. Hoewel die groep bly diversifiseer het gedurende die daaropvolgende periode, die Devoon, is hulle swaar getref deur die Laat-Devoon-uitwissing. Hulle getalle het afgeneem totdat hulle tydens die Perm-Trias-uitwissing (of net daarvoor) uitgesterf het, sowat 251,9 miljoen jaar gelede.

Hoewel hulle dikwels "seeskerpioene" genoem word, het net die vroegste euripterides in die see voorgekom; baie latere vorme het in brak of vars water geleef, en hulle was nie ware skerpioene nie. Volgens sommige studies kon hulle ’n dubbele asemhalingstelsel gehad het, wat beteken hulle het dalk vir kort rukke op land gehou. Die naam Eurypterida kom van die Griekse woorde εὐρύς (eurús, "breë" of "wye") en πτερόν (pteron, "vlerk'), wat verwys na die paar breë swemledemate in baie lede van die groep.

Die euripterides sluit die grootste bekende geleedpotiges in wat nog geleef het. Die grootste een, Jaekelopterus, het tot 2,5 m lank geword. Hulle was egter nie almal groot nie; die meeste spesies was korter as 20 cm; die kleinste een, Alkenopterus, was net 2,03 cm lank. Eurypterida-fossiele is al op al die kontinente ontdek. Die meeste kom uit Noord-Amerika en Europa, want die groep het hoofsaaklik in die water om en op die antieke superkontinent Euramerika voorgekom. Net ’n hand vol groepe het weg van daar versprei en ’n paar genera is wêreldwyd aangetref.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy