Die histologie of weefselleer bestudeer die struktuur en funksie van lewende weefsel. Die belangrikste tegniese hulpmiddel wat in die histologie gebruik word, is die mikroskoop en die elektronmikroskoop. Voordat die weefsel mikroskopies ondersoek kan word, moet dit eers bewerk word. Met behulp van spesiale fikseer- en kleuringsmetodes is dit deesdae moontlik om selfs die fynste besonderhede waar te neem. Hoewel die terme mikroskopiese anatomie en histologie (weefselleer) dikwels sinoniem gebruik word, is daar tog 'n verskil. Die mikroskopiese anatomie bestudeer uitsluitlik die vorm en bou van die weefsels waaruit lewende wesens bestaan.
Die histologie bestudeer daarbenewens ook die funksie van die weefsel. Baie histologiese studies is in werklikheid 'n kombinasie van anatomie en fisiologie op mikroskopiese vlak. Die term weefsel is afkomstig van die Franse anatoom Buchat, wat in die 18e eeu geleef het. Buchat het ontdek dat die verskillende dele van die dierlike en die menslike liggaam opgebou is uit verskillende lae of selstrukture. Die selle van ʼn bepaalde weefselsoort het altyd dieselfde vorm en funksie. So kan onderskei word tussen dekweefsel, spierweefsel, klierweefsel, steunweefsel en senuweeweefsel. Dus kan alle organe geklassifiseer word op grond van die weefsel waaruit hulle bestaan as onder meer kliere, steunorgane, ensovoorts.