Ingroep-partydigheid

Ingroep-partydigheid, soms bekend as ingroep/uitgroep-vooroordeel, ingroep-vooroordeel, of intergroep-vooroordeel, is 'n patroon waarvolgens lede van 'n persoon se ingroep bo lede van die uitgroep bevoordeel word. Dit vind onder andere uitdrukking in die evaluering van ander en die toekenning van hulpbronne.[1][2]

Hierdie interaksie is deur baie sielkundiges nagevors en word met baie teorieë rondom groepskonflik en vooroordeel geassosieer.  Die verskynsel word hoofsaaklik vanuit 'n sosiale sielkunde-standpunt beskou. Twee prominente teoretiese benaderings tot die verskynsel van ingroep-partydigheid is die realistiese konflikteorie en sosiale identiteitsteorie. Volgens die realistiese konflikteorie ontstaan intergroepkompetisie en soms intergroepkonflik wanneer twee groepe teenoorstaande aansprake op skaars hulpbronne het. Daarteenoor beklemtoon die sosiale identiteitsteorie 'n sielkundige strewe na positief onderskeibare sosiale identiteite as die algemene hoofoorsaak van ingroep-partydige gedrag.

  1. Aronson, E., Wilson, T. D., & Akert, R. (2010).
  2. Taylor, Donald M.; Doria, Janet R. (April 1981). "Self-serving and group-serving bias in attribution". Journal of Social Psychology. 113 (2): 201–211. doi:10.1080/00224545.1981.9924371. ISSN 0022-4545.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy