Jade

Wit en groen jade
Aktinoliet, 'n jade-agtige variëteit uit Brasilië
Wit asbes (serpentyn), China

Jade (afgelei van die Chinese „Yù“) of niersteen verwys na mengsels van minerale wat hoofsaaklik uit jadeïet en die sagter nefriet bestaan. Hulle moet in 'n spesifieke hoeveelheid en struktuur voorkom om as jade-edelgesteente beskou te word.

Jade is in China reeds sedert ten minste 8000 v.C. in gebruik, en mettertyd het selfs 'n kult rondom dié edelgesteente ontwikkel. Jade is daarnaas ook al duisende jare in Europa, die Stille Oseaangebied, in die oostelike Middellandse Seegebied en veral in Sentraal-Amerika verwerk.

Met die koloniale beleid van Europese groot moondhede in die laat 19de eeu het jade-gesteente toenemend ingang by die Westerse juweliersmode gevind nadat die edelgesteente reeds deur die Spanjaarde tydens die kolonialisering van Sentraal-Amerika as edelsteen herontdek is. In die 1920's het jade 'n uiters gewilde modeaccessoire geword. Dekades later, in die Hippies-kultuur van die 1960's en 1970's, het dit weer 'n belangrike rol as magiese attribuut en esoteriese "steen van die wyses" gespeel.[1]

In die wêreld van edelgesteentes is jade nogal 'n spesiale geval gewees aangesien sy belangrikheid nie tot sy eienskappe as edelgesteente en mineraal of sy kultuurhistoriese betekenis beperk gebly het nie, maar deur die loop van die eeue as 'n simbool vir 'n groot verskeidenheid oortuigings en konsepte beskou is wat van argaïese denkbeelde oor lewe, dood en kosmiese orde, die mag van rituele en seremonies, die bekoring van jade-kunswerke tot by sy beweerde magiese geneeskrag gestrek het. Die laasgenoemde konsep herleef deesdae in esoteriese kringe.

  1. SWR 2 Wissen Manuskriptdienst, Reihe Chinoiserien, Folge 2: Jade

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy