Kartografie

Geïllustreerde kaart

Kartografie (in Grieks: "chartis") behels die optrek van kaarte, deur dit te bestudeer en te beoefen. 'n Persoon wat in kartografie spesialiseer, word 'n kartograaf genoem.

Gewoonlik was kaarte opgetrek met behulp van pen en papier, maar die koms en verspreiding van rekenaars het 'n omwenteling in kartografie teweeg gebring. Die meeste hedendaagse kaarte word met behulp van kartografiese sagteware op rekenaars geproduseer.

Kaarte dien as die visuele voorstellings van data wat handel oor verskillende ruimtes en areas. Hierdie data word deur verskeie tipe metings verkry, en word in 'n databasis gestoor. Die data kan dan later vir verskeie gebruike weer herroep word.

Die kartografiese proses is gebaseer op die vasgestelde feit dat die wêreld meetbaar is, en dat ons betroubare voorstellings of modelle van daardie realiteit kan maak.

Kartografie behels gevorderde vaardighede en ingesteldhede, asook die gebruik van simbole om sekere geografiese verskynsels mee te verteenwoordig, asook die vermoë om die wêreld op 'n abstrakte en afgeskaalde wyse te kan visualiseer.

'n Kaart van Parys, Frankryk

Kartografie was oorspronklik ʼn onderafdeling van die geografie, maar het deur die toepassing van eie tegnieke tot 'n selfstandige wetenskap ontwikkel. Die doel met die kartografie is om geografiese inligting met behulp van kaarte aan die kaartgebruiker of - leser oor te dra. Die mens het van kaarte gebruik gemaak lank voordat hy kon skryf en in baie ou skriflose kulture is die jag· en oorlogsveld met behulp van die kaart afgebaken en verken. Uit ou kaarte kry 'n mens 'n goeie beeld van vroeëre beskawings se wêreldbeeld en die hoeveelheid kennis waaroor hulle beskik het ten opsigte van hulle omgewing. Dit is byvoorbeeld bekend dat die Grieke reeds voor Christus 'n teorie gehad het dat die aarde bolvormig is, 'n idee wat by die Romeine verlore gegaan het.

Gedurende die Middeleeue is daar weinig gegewens tot die bestaande kennis toegevoeg, maar in die Renaissance het daar 'n groot opbloei gekom, veraI deur die talle seekaarte wat vir die snel ontwikkelende seevaart noodsaaklik was. By die vervaardiging van landkaarte is daar aan die begin moeisame terreinopmetings gedoen, maar in die laaste paar dekades het die lugfotografie 'n baie vername rol begin speel by die versameling van gegewens wat op kaarte ingevoeg word.

Eers word 'n basiskaart gemaak waarop die kartograaf al sy waarnemings oor die topografie (hoogte, riviere, dorpe, ensovoorts) invul. Op hierdie manier ontstaan dan die topografiese kaart wat vir elke land onmisbaar is omdat dit as grondslag dien vir allerlei kaarte wat daarvan afgelei word en wat op hulle beurt weer onmisbaar is vir die ruimtelike ordening van die moderne samelewing. Wanneer daar op 'n topografiese kaart gegewens aangebring word wat die verspreiding van verskynsels volgens kwaliteit of kwantiteit aangee, is dit 'n tematiese kaart. Voorbeelde hiervan is die bevolkingsdigtheids- en die weerkaart.

Omdat hierdie kaarte dikwels ʼn goeie beeld gee van die veranderinge wat 'n bepaalde verskynsel in 'n bepaalde rigting toon (uit die gegewens op 'n wêreldkaart sou dit byvoorbeeld blyk dat die reënval oor die algemeen afneem hoe verder 'n mens jou van die kus bevind), vind die tematiese kaart baie toepassings in die samelewing. Een van die groot probleme van die kartograaf is dat hy gegewens van 'n bolvormige voorwerp (die aarde) op 'n plat vlak (die kaart) moet weergee.

As gevolg hiervan ontstaan daar allerlei vervormings ten opsigte van vorm, afstand of oppervlakte. Verskeie projeksies is nou reeds ontwikkel, maar veral oor groot gebiede moet die kartograaf dikwels tevrede wees met 'n kompromis, omdat hy nie in alle gevalle vorm-, oppervlakte- en afstandgetroue weergawes verkry nie. Die enigste ware voorstelling van die aarde is die wat met 'n aardbol verkry word. Prakties sou dit egter onmoontlik wees om op 'n aardbol al die topografiese gegewens in detail aan te bring, aangesien 'n mens dan ʼn enorme aardbol sou moes hê.

Omdat die kartograaf die gegewens nie volgens die ware grootte op ʼn kaart kan aanbring nie, maak hy gebruik van 'n skaal. Vir die bepaling van afstande word dan van verskillende metodes gebruik gemaak, waarvan die lugfoto vanuit 'n vliegtuig of 'n aardsatelliet een van die hulpmiddele is wat die meeste gebruik word.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in