Lessenaar

'n Lessenaar wat tuis gebruik word.

'n Lessenaar is 'n meubelstuk met 'n plat werksoppervlak in die styl van 'n tafel wat gebruik word in 'n skool, kantoor, huis en so meer vir akademiese, professionele of tuisaktiwiteite soos lees, skryf of om toestelle soos 'n rekenaar te gebruik. [1][2] Lessenaars het dikwels een of meer laaie en vakkies of hokkies om skryfbehoeftes en papier in te bêre. Lessenaars word gewoonlik van hout of metaal gemaak, hoewel materiale soos verharde glas ook soms gebruik word.

Party lessenaars het die vorm van 'n tafel, hoewel net een kant van 'n lessenaar gewoonlik geskik is om by te sit (daar is uitsonderings, soos 'n maatlessenaar),[3] anders as gewone tafels. Party lessenaars het nie die vorm van 'n tafel nie, byvoorbeeld 'n klerekaslessenaar (armoire-lessenaar)[4] is 'n lessenaar wat in 'n groot hangkasagtige kabinet ingebou is. 'n Draagbare lessenaar [5] is lig genoeg om op iemand se skoot geplaas te word. Aangesien baie mense op 'n lessenaar leun terwyl hulle dit gebruik, moet 'n lessenaar stewig wees. In die meeste gevalle sit mense by 'n lessenaar óf op 'n aparte stoel óf op 'n ingeboude stoel (byvoorbeeld by party skoollessenaars). Party gebruikers staan by hul lessenaars, waarvan die oppervlak dan hoër moet wees.

  1. "Desk" (in Engels). The Free Dictionary By Farlex. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2020. Besoek op 17 Mei 2012.
  2. "Desk". Merriam-Webster. Besoek op 17 Mei 2012.
  3. "Partners desk". Webster’s Online Dictionary. Besoek op 17 Mei 2012.
  4. "Armoire desk". Webster’s Online Dictionary. Besoek op 17 Mei 2012.
  5. "Portable desk". Go Historic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Julie 2012. Besoek op 17 Mei 2012.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy