Luislange

Luislange / Pythonidae
'n Indiese luislang (Python molurus)
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Subfilum:
Klas:
Orde:
Suborde:
Infraorde:
Familie:
Pythonidae

Fitzinger, 1826
Sinonieme
  • Pythonoidea - Fitzinger, 1826
  • Pythonoidei - Eichwald, 1831
  • Holodonta - Müller, 1832
  • Pythonina - Bonaparte, 1840
  • Pythophes - Fitzinger, 1843
  • Pythoniens - A.M.C. Duméril & Bibron, 1844
  • Holodontes - A.M.C. Duméril & Bibron, 1844
  • Pythonides - A.M.C. Duméril & Bibron, 1844
  • Pythones - Cope, 1861
  • Pythonidae - Cope, 1864
  • Peropodes - Meyer, 1874
  • Chondropythonina - Boulenger, 1879
  • Pythoninae - Boulenger, 1890
  • Pythonini - Underwood & Stimson, 1990
  • Moreliini - Underwood & Stimson, 1990[1]

Luislange of luislangagtiges (Pythonidae) is 'n familie van slange wat onder die orde van skubreptiele ressorteer. Luislange is nie giftig nie en kom in Australië, Suidoos-Asië en Afrika voor.

Baie mense verwar boas (Boidae) en luislange met mekaar. Luislange is dan ook vir lank as 'n subfamilie van die boas beskou. Tans word luislange as 'n volwaardige familie onder die superfamilie Pythonoidea ingedeel. Die grootste verskil tussen die twee is dat boas lewend die lewe skenk, terwyl luislange eiers lê. Boas word ook nie so lank soos luislange nie. Groter luislange kan prooi so groot as 'n huiskat of 'n volgroeide bok vang.

In Afrika is daar selfs luislange wat gemsbokke vang. Voordat die prooi gevreet word, word dit dood gedruk, waarna dit heel ingesluk word. Ten spyte van hul grootte, is luislange selde vir mense gevaarlik.

Luislange is daarvoor bekend dat hulle geweldige groot slange is. Daar is ongeveer 20 spesies, waarvan 4 meer as 5 m lank word. Luislange is die enigste reptiele wat hulle eiers uitbroei. Hulle is nie giftig nie, en hulle wurg die prooi dood.

Ondanks sy grootte en krag hou die luislang geen gevaar vir die mens in nie. Inteendeel, deurdat hulle groot getalle knaagdiere eet, is hulle baie nuttig vir die mens. luislange (familie Pythonidae) en die boas (familie Boidae) is die wêreld se reuseslange. Luislange kom net in die Ou Wêreld voor, terwyl boas hoofsaaklik in Amerika aangetref word. Luislange en boas verskil baie min van mekaar.

Die opvallendste uitwendige kenmerk waaraan hulle onderskei kan word, is die 2 rye skubbe wat onderaan die stert van die luislang voorkom (boas het een). Luislange lê eiers, maar boas is eierlewendbarend. Net soos die boa word die luislang as 'n primitiewe slang beskou omdat sy liggaamsbou die meeste van die van alle slange na hul akkedisagtige voorouers lyk, hoewel dit uiterlik nie heeltmal merkbaar is nie.

Net aan weerskante van die kloake (gemeenskaplike opening van die uitskeidings- en geslagsorgane) is nog rudimentêre agterpote (in beginsel aanwesig) in die vorm van klouagtige uitsteeksels (spore). Inwendig is daar 'n rudimentêre bekken. 'n Ander primitiewe kenmerk is die aanwesigheid van 2 longe. Die linkerlong is wei al kleiner as die regterlong, maar by ander slange het die linkerlong verdwyn.

In vergelyking met ander slangsoorte is die luislang se pensskubbe relatief klein. Die skubbe op die pens vorm 'n reeks breë plate met behulp waarvan die slang voortbeweeg. Die luislang se gebit bestaan uit ongeveer 100 skerp tande, wat na binne gebuig is. Daar is geen giftande aanwesig nie. Die tande is ook net geskik om die prooi in 'n greep te hou en nie om te byt of te kou nie. Die meeste spesies het hittesensors op die lippe, waarmee die prooi in die donker opgespoor kan word.

  1. McDiarmid RW, Campbell JA, Touré T. 1999. Snake Species of the World: A Taxonomic and Geographic Reference, vol. 1. Herpetologists' League. 511 pp. ISBN 1-893777-00-6 (series). ISBN 1-893777-01-4 (volume).

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy