Maori's

Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Maori (taal).
Maori's

Maori's voer 'n haka uit (2012).
Totale bevolking: omstreeks 750 000
Belangrike bevolkings  in: Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 598 605 (2013-sensus)[1]

Vlag van Australië Australië 155 000 (2011-skatting)[2]
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk ca. 8 000[3]
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State ca. 3 500[4]
Vlag van Kanada Kanada 1 305[5]
Ander gebiede ca. 8 000[3]

Taal: Māori, Engels
Geloofsoortuiging: Christendom, Māori-godsdienste
Verwante etniese groepe: Ander Polinesiese volke, Austronesiese volke

Die Maori's (Maori: Māori, [ˈmaːɔɾi] ) is die inheemse Polinesiese bevolking van Nieu-Seeland (Aotearoa). Hulle het oorspronklik tussen rofweg 1320 and 1350 in verskillende immigrasiegolwe vanuit Oos-Polinesië na Nieu-Seeland gekom.[6]

Deur eeue van afsondering het die Maori's hulle eie unieke kultuur en taal, 'n ryk mitologie, unieke ambagte en uitvoerende kunsvorme ontwikkel wat verskil van dié van ander Oos-Polinesiese kulture. Hulle het 'n stamgebaseerde samelewing volgens hul Polinesiese tradisies gevorm. Danksy ingevoerde plantspesies en kultivars het hulle landbou in Nieu-Seeland beoefen. Ná 1450 het 'n krygerkultuur met versterkte nedersettings ontstaan.

Van die vroeëre Maori's het na die Chathameilande migreer, waar hulle afstammelinge Nieu-Seeland se ander inheemse Polinesiese groep, die Moriori, geword het.[7]

Aanvanklike kontak tussen die Maori's en Europeërs, wat in die 18de eeu begin het, het gewissel van voordelige handel tot dodelike geweld; die Maori's het baie tegnologieë van die nuwe aankomelinge aangeneem. Ná die ondertekeing van die Verdrag van Waitangi in 1840 het die twee kulture vir 'n generasie saamgewoon. Stygende spanning oor betwiste grondverkope het tot konflik in die 1860's gelei, asook groot beslagleggings op grond, waarop die Maori's met sterk weerstand gereageer het. Ná die nietigheidsverklaring van die verdrag in 1877 is die Maori's noodgedwonge in baie aspekte van die Westerse kultuur opgeneem. Sosiale omwentelings en epidemies van siektes wat na Nieu-Seeland gebring is, het talle Maori's uitgewis en hulle getalle het drasties afgeneem. Teen die begin van die 20ste eeu het die Maori-bevolking begin herstel. 'n Ernstige poging is aangewend om hulle aansien in die groter Nieu-Seelandse bevolking te verbeter en sosiale regverdigheid daar te stel.

Tradisionele Maori-kultuur het daardeur 'n aansienlike herlewing ondergaan, wat verder onderskraag is deur 'n Maori-protesbeweging wat in die 1960's ontstaan het. Tog is die ekonomiese en sosiale hindernisse wat die Maori's in die gesig staar buite verhouding groot. Hulle het ook 'n laer lewensverwagting en inkomste as ander etniese groepe in Nieu-Seeland. Verder ondervind hulle meer misdaad en gesondheidsprobleme en groter opvoedkundige onderprestasie.

In die sensus van 2018 het 775 836 mense in Nieu-Seeland as Maori's geïdentifiseer, wat 16,5 persent van die nasionale bevolking is. Hulle is die land se grootste etniese groep naas die Europese Nieu-Seelanders (Pākehā). Daarbenewens woon meer as 140 000 Maori's in Australië. Die taal Maori word in 'n mate deur sowat 'n vyfde van alle Maori's gepraat, wat 3 persent van die totale bevolking is. Maori's is aktief in alle sfere van die Nieu-Seelandse kultuur en gemeenskap, met onafhanklike verteenwoordiging op gebiede soos die media, politiek en sport.

  1. Statistics New Zealand. "2013 Census QuickStats About Māori" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Maart 2016. Besoek op 5 November 2016.
  2. (en) Hamer, Paul (2012), Māori in Australia: An Update from the 2011 Australian Census and the 2011 New Zealand General Election, http://ssrn.com/abstract=2167613, besoek op 5 November 2016 
  3. 3,0 3,1 Walrond, Carl (4 Maart 2009). "Māori overseas". Te Ara: The Encyclopedia of New Zealand (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 5 November 2016.
  4. "Census 2000 Foreign-Born Profiles (STP-159): Country of Birth: New Zealand" (PDF) (in Engels). Washington, D.C.: United States Census Bureau. 2003. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 5 November 2016.
  5. (en) "(232), Sex (3) and Single and Multiple Responses (3) for Population, for Canada, Provinces, Territories, Census Metropolitan Areas and Census Agglomerations, 2001 Census – 20% Sample Data". Ottawa: Statistics Canada, Cat. No. 97F0010XCB2001001. 2003. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 September 2019. Besoek op 5 November 2016.
  6. Walters, Richard; Buckley, Hallie; Jacomb, Chris; Matisoo-Smith, Elizabeth (7 Oktober 2017). "Mass Migration and the Polynesian Settlement of New Zealand". Journal of World Prehistory. 30 (4): 351–376. doi:10.1007/s10963-017-9110-y.
  7. "Moriori – Origins of the Moriori people". Te Ara: The Encyclopedia of New Zealand. (1 March 2017). 

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy