Naaldekoker

Naaldekoker
Trithemis kirbyi
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Arthropoda
Klas: Insecta
Orde: Odonata
Suborde: Epiprocta
Infraorde: Anisoptera
Selys, 1854[1]
Families

Aeshnidae
Austropetaliidae
Cordulegastridae
Corduliidae
Gomphidae
Libellulidae
Macromiidae
Neopetaliidae
Petaluridae

'n Naaldekoker is 'n soort insek wat tot die orde Odonata behoort. Naaldekokers begin hulle lewe in water en word dus dikwels naby damme, riviere, mere, kanale, strome en vleilande aangestref. Naaldekokers word gekenmerk aan hulle groot saamgestelde oë, twee paar sterk, deursigtige vlerke en 'n verlengde liggaam. Alhoewel hulle soos ander insekte oor ses bene beskik, kan hulle nie baie goed loop nie.

Daar is byna 5000 verskillende naaldekokers en waterjuffers wêreldwyd.

Naaldekokers is soortgelyk aan waterjuffers (wat tot dieselfde insekorde Odonata behoort), maar daar word onderskeid getref tussen volwasse naaldekokers en waterjuffers. Naaldekokers se liggaamsbou verskil van waterjuffers: naaldekokers se agtervlerke is breër as hulle voorvlerke, terwyl die voor- en agtervlerke van waterjuffers gelyk is. Naaldekokers hou ook hulle vlerke weg van en loodreg tot hulle liggame wanneer hulle rus, terwyl waterjuffers hulle vlerke teen hulle liggame hou.

Naaldekokers het sterk kake en kan byt, maar hulle sal nooit 'n mens aanval en byt nie. Hulle sal dit net doen wanneer hulle bedreig voel. soos waar jy een met jou een hand sou vashou en sy kake teen jou ander hand se duim hou. Die meeste naaldekokers sal nie eens deur jou vel kan knaag nie, maar van die groteres kan wel 'n bloedkolletjie laat. Die byt is nie giftig nie, maar dit is pynlik en moet goed ontsmet word om infeksie te voorkom. Hulle het egter nie angels nie en kan dus nie steek nie. Kyk https://www.youtube.com/watch?v=2mY6UsHgh90

Volwasse naaldekokers lewe sowat twee maande.

Die larwes sowel as die volwassenes is roofdiere en die volwasse mannetjies het bepaalde gebiede (territoriums) wat hulle teen ander mannetjies verdedig. Die orde Odonata is al baie oud.

Moderne naaldekokers en waterjuffers deel sekere eienskappe met hul voorouers uit die Perm, maar hulle het ook gespesialiseerde kenmerke wat eers later ontwikkel het. Van die mooiste insekte word onder die naaldekokers en waterjuffers (orde Odonata) aangetref. Naaldekokers (suborde Anisoptera) en waterjuffers (suborde Zygoptera) is albei herkenbaar aan hul lang, staafvormige agterlywe en twee paar stywe, fynbeaarde vlerke.

Naaldekokers is oor die algemeen groter, asook sterker vlieërs as die waterjuffers, en kan verder onderskei word op grond daarvan dat hulle hul vlerke uitgesprei hou, ook wanneer hulle gaan sit, terwyl waterjuffers hul vlerke toevou wanneer hulle gaan sit. Die eerste naaldekokers en waterjuffers is bekend uit die Perm (280 tot 230 miljoen jaar gelede).

Hoewel hierdie insekte sedertdien heelwat aanpassings ondergaan het, toon hulle nog 'n groot ooreenkoms met hul voorouers. Die ou Germane het naaldekokers en waterjuffers as bodes van die godin Freya (godin van liefde en vrugbaarheid) beskou. Die liggaam van hierdie insek bestaan uit 'n relatief groot kop, ʼn min of meer vierkantige borsstuk en 'n silindervormige agterlyf.

Die kleur van die liggaam is meestal variasies van groen, blou of rooi, dikwels met opvallende patrone. Die groot, saamgestelde oë beslaan byna die hele oppervlakte van die beweeglike kop. Reg voor die oë is twee kort antennae. Van die bytende monddele is veral die groot, skottelvormige onderlip, wat onder die twee kake lê, baie goed ontwikkel.

Dit is oortrek met 'n groot aantal hakies en vorm saam met die kake ʼn struktuur, bekend as die vangmasker, waarmee die prooi gegryp en verskeur word. Aan die borsstuk is daar drie paar lang, dun pote met stekels, wat veral gebruik word om prooi tydens vlug te vang, en twee paar vlerke wat slegs op en af beweeg kan word. Daar is geen verbinding tussen die voor- en agtervlerke soos by die skoenlappers nie.

Die vlerke is versterk deur 'n fyn netwerk van are en dwarsare, waardeur senuwees, bloedvate en asemhalingsbuise loop. Naaldekokers is uitstekende vlieërs wat snelhede van tussen 50 en 100 km/h kan bereik en baie skielik van rigting kan verander. Die segmente van die borsstuk is skuins, sodat die skok wat ontstaan as 'n naaldekoker teen sy prooi vasvlieg, na die swaartepunt van die liggaam herlei word. Hierdie meganisme funksioneer dus as 'n natuurlike skokbreker.

  1. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Selys 1854

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy