Noodhulp

Die universele noodhulp simbool

Noodhulp of eerstehulp is die noodbehandeling van beserings. Volgens die SafeTech noodhulpopleidingshandleiding word noodhulp vir drie redes toegepas: Om 'n persoon aan die lewe te hou, om te voorkom dat 'n besering of toestand vererger en om spoedige herstel te bevorder. Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is 'n belangrike vaardigheid wat deel van noodhulp vorm.

'n Lewe kan eweneens gered word deur bloeding te beheer terwyl op professionele mediese hulp gewag word. Noodhulp is in die afgelope 2 dekades wêreldwyd ontwikkel as 'n voorsorgmaatreël ten tyde van natuurrampe en vyandelike aanvalle. In Suid-Afrika is die direktoraat Burgerlike Beskerming van die Suid-Afrikaanse Weermag belas met die koördinering van alle noodhulp tydens 'n noodtoestand.

Noodhulp is die voorlopige sorg wat aan die slagoffer van 'n ongeluk of 'n skielike siektetoestand verleen word in die kritieke tyd voordat professionele mediese hulp opdaag. Dit het voorheen ook die vervoer van pasiënte ingesluit, maar die aspek het sedertdien uiters gespesialiseer geword en die begrip noodhulp is dus hoofsaaklik op hulpverlening op die ongelukstoneel van toepassing. Baie lewens kan gered word deur die noodsaaklike stappe onmiddellik te doen, byvoorbeeld deur bloeding te stop of tydens 'n skyndood kunsmatige asemhaling en hartmassering toe te pas.

Eksterne oorsake veroorsaak dikwels die noodtoestand en dit kan meestal deur noodhulp uitgeskakel word deur byvoorbeeld 'n elektriese stroom af te skakel wanneer 'n slagoffer daardeur geskok word, ʼn drenkeling uit die water te haal of ʼn slagoffer uit 'n vasgeknelde posisie te bevry. 'n Afwyking in die normale liggaamsfunksies van die slagoffer, byvoorbeeld 'n floute, bewusteloosheid, skok of 'n skyndood, kan dikwels beheer word deur die bloedsomloop of asemhaling te ondersteun of te herstel.

Letsels aan die een of ander liggaamsdeel, byvoorbeeld 'n beenbreuk, ontwrigting van 'n lit, wonde en bloeding, word behandel deur eerstens afwykings in die normale liggaamsfunksies van die beseerde sover moontlik onder beheer te bring. 'n Floute word veroorsaak deur 'n verminderde bloedtoevoer na die brein, meestal vanweë skok, hewige pyn, uitputting, en so meer. Indien die persoon plat neergelê word, sal hy vanself bykom. Bewusteloosheid tree in wanneer daar 'n ernstige steurnis in die brein plaasgevind het, maar die asemhaling en bloedsomloop (polsslag) bly normaal.

Daar is verskeie oorsake vir die toestand, naamlik:

- ernstige breinskade (harsingskudding, breinbloeding of breinkneusing);

- vergiftiging van allerlei aard (ook alkohol of geneesmiddels);

- suurstofgebrek (verstikking, verdrinking, gasvergiftiging);

- bepaalde siektoestand (beroerte, epilepsie, niervergiftiging, suikersiekte).

Die versorging van 'n slagoffer in 'n noodgeval geskied volgens ʼn vaste patroon. Eerstens moet vasgestel word of die persoon nog asemhaal en of die proses nie belemmer word nie. Indien bloeding voorkom, moet dit onmiddellik gestop word, en die pasiënt moet ook so gemaklik moontlik gemaak word totdat professionele mediese hulp opdaag. Normale asemhaling geskied teen 12 tot 20 inhalasies per minuut, terwyl gebrekkige asemhaling gemerk kan word aan 'n bloupers kleur aan die oorlobbe en om die mond.

Asemhaling kan belemmer word deur 'n obstruksie in die mond of keel, en die dele moet dus ondersoek word vir slym, bloed, braaksel en ander voorwerpe ('n kunsgebit moet altyd eerste verwyder word). Obstruksies veroorsaak soms ʼn roggeling tydens asemhaling of skuim om die mond, en moet verwyder word deur die slagoffer op sy maag te plaas met die kop sywaarts. In die geval van braaksel moet die kop laer as die liggaam na onder gehou word.

'n Bewustelose persoon kan ook verstik deurdat sy tong terugsak en so die keelgat afsluit. Wanneer alle obstruksies verwyder is, word die pasiënt in die sogenaamde stabiele syposisie geplaas: die boonste knie gebuig, terwyl die kop op die onderste gebuigde arm rus. Wanneer die slagoffer in 'n skyndoodtoestand verkeer, is hy nie net bewusteloos nie, maar het sy asemhaling en bloedsomloop opgehou. Indien noodhulp nie onmiddellik toegepas word nie, sal die persoon binne enkele minute weens 'n suurstoftekort sterf of kan ernstige breinskade intree.

Indien daar geen asemhaling is nie of slegs uiters swak asemhaling, moet kunsmatige asemhaling toegepas word. Die pasiënt word op sy rug geplaas en die ken gelig sodat die lugpyp oop is. In die geval van 'n volwassene, word die persoon se neus toegeknyp en word asem deur sy mond ingeblaas in 'n tempo van sowat 12 keer per minuut. Na elke blaasslag sal die longe uitsit en die persoon moet toegelaat word om self uit te asem.

By klein kinders plaas die hulpverlener sy mond oor sowel die neus as die mond van die pasiënt en die blaasproses word vinniger, ligter en in 'n tempo van ongeveer 30 keer per minuut toegedien. Die proses moet ononderbroke voortgesit word totdat die persoon weer vanself begin asemhaal. 'n Ander metode van kunsmatige asemhaling wat selde toegepas word en tegnies moeiliker is, geskied deur met die hand palms op die slagoffer se bors te druk sodat die lug ontsnap (uitaseming). Sy arms en skouers word daarna opgelig sodat die borskas vergroot en lug outomaties deur die lugkanale instroom (inaseming). Indien 'n slagoffer se hart gaan staan het, moet hartmassering onmiddellik saam met kunsmatige asemhaling toegepas word (kardiopulmonale bybringing). 'n Vuishou effens na links op die onderste deel van die borsbeen kan die hart weer laat klop. Die verkeerde toepassing van hierdie prosedure kan ʼn gebreekte borsbeen of ribbes veroorsaak, maar kan nogtans ʼn lewe red.

Met hartmassering word met die een handpalm teen die onderkant van die borsbeen gedruk en die ander hand word bo-oor die hand geplaas. Die noodhulpbeampte, wat langs die pasiënt kniel, druk dan met sy liggaamsgewig op laasgenoemde se borskas. Die pasiënt moet verkieslik op ʼn harde oppervlak neergelê word. Die drukproses moet 40 tot 60 keer per minuut herhaal word. Indien net een persoon die noodhulp toepas, word daar na elke 15 drukke op die bors 2 keer deur die slagoffer se neus geblaas.

Indien 2 mense hulp verleen, word daar om die beurt 5 keer op die hart gedruk en 1 keer deur die mond geblaas. 'n Slagoffer kan op die manier ure lank aan die lewe gehou word en die kanse op herstel hang van die bykomende letsels af, byvoorbeeld die mate van breinbeskadiging. Wanneer die pasiënt aan skok ly, word sy bloedsirkulasie belemmer. Die persoon kry 'n vaal kleur, sweet, word bloupers om die mond en onder die vingernaels en het 'n baie swak polsslag.

In so 'n geval moet die kop in 'n posisie laer as die res van die liggaam geplaas word sodat soveel bloed moontlik na die brein kan vloei. Die slagoffer moet ook met 'n kombers of iets dergeliks warm gehou word. 'n Ernstige skoktoestand vereis mediese sorg en sal nie outomaties herstel nie. 'n Bloedoortapping of die toediening van bloedplasma is gewoonlik nodig om die bloedsirkulasie te normaliseer. Bloeding kan uitwendig of inwendig wees.

Uitwendige bloeding kan stopgesit word deur met die vingers of 'n skoon lap op ʼn spesifieke drukpunt (posisies waar slagare oor 'n been loop) of desnoods op die wond te druk. Wanneer 'n slagaar beseer is, sal helderrooi bloed al polsende uit die wond spuit. Benewens die drukverband- of kompressiemetode kan 'n toerniket of skroefverband gebruik word om bloeding te beheer. Hiermee word die bloedtoevoer na 'n ledemaat afgebind, maar die metode moet nooit langer as 20 minute aaneen toegepas word nie aangesien dit soms meer skade as goed kan doen. (Dit kan lei tot die beskadiging van weefsel, bloedvate en senuwees.)

Bloeding uit 'n groot aar word altyd gestop deur druk op die wond toe te pas en die betrokke liggaamsdeel op te lig. Indien die toerniket te styf aangewend word, kan dit tot verlamming van die ledemaat lei. Brandwonde word liggies met ʼn steriele, rafelvrye verband (nie watte nie) toegedraai, en in die geval van oppervlakkige velbrandwonde kan die beseerde dele vir sowat 10 minute met koue water afgespoel word. Brandwondsalf moet nie aangewend word nie.

Beenbreuke, ontwrigting van 'n lit en kneusings kan vanweë die pyn en bloedingsimptome soms moeilik onderskei word en word derhalwe as 'n voorsorgmaatreël gespalk. Wanneer 'n persoon deur gasse of dampe vergiftig is, moet hy vars lug of soms suurstof kry. Gif wat per mond ingeneem is (byvoorbeeld ook geneesmiddels), kan op verskeie maniere geneutraliseer word; melk versnel die opname van fosfor en ander stowwe uit die dermkanaal, en braking is soms doeltreffend, maar kan ook skadelik wees indien petroleum of bytstowwe ingeneem is. Siekes en gewondes word verkieslik op 'n draagbaar vervoer. In normale omstandighede is daar gespesialiseerde noodvervoerdienste beskikbaar. Soms is dit egter noodsaaklik dat 'n slagoffer onmiddellik oor 'n kort afstand verskuif word, en die manier waarop dit gedoen word, sal bepaal word deur die beskikbare hulp, die slagoffer se besering en sy toestand.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy