Oerinsekte

Oerinsekte
Tydperk: DevoonHoloseen
Lepisma saccharina
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Subklas:
Apterygota
Ordes

Die oerinsekte (subklas Apterygota) word deur vier insekteordes verteenwoordig en hulle verskil van die hoër insekte (subklas Pterygota) in die opsig dat hulle nie vlerke het nie en dat vlerke ook nie in hul voorouers se ontwikkelingsgeskiedenis voorgekom het nie. 'n Bekende verteenwoordiger van die subklas is die vismot ot silwervissie (Lepisma saccharina). Die afwesigheid van vlerke by hoër insekte is 'n algemene verskynsel, maar wanneer noukeurige ondersoek ingestel word, vind 'n mens dat vlerke se rudimente aanwesig is.

Miere se mannetjies het byvoorbeeld vlerke, terwyl dit in 'n onontwikkelde vorm by die werkers aanwesig is. Oerinsekte het geen struktuur wat met vlerke in verband gebring kan word nie, hoewel klein lobbe aan die borsstukke van sommige insekte gesien word. Baie paleontoloë beskou sulke strukture as moontlike evolusionêre voorlopers van vlerke, sodat die klein lobbe by die Apterygota as voor- lopers en nie as oorblyfsels nie van vlerke beskou kan word.

Oerinsekte verskil van die ander subklas insekte (Pterygota) in die opsig dat hulle geen gedaantewisseling (metamorfose) ondergaan nie, 'n toestand wat ametabolie genoem word. Die jong insekte is kleiner as hulle ouers en hul geslagsorgane is nie so goed ontwikkel nie.

Die kleintjies van hemimetaboliese insekte, soos sprinkane (orde Orthoptera) en die wandse (orde Hemiptera), ondergaan 'n onvolledige metamorfose waartydens die jong insekte baie soos hul ouers lyk omdat hulle reeds saamgestelde oë en gelede pote het, maar die geslagsorgane slegs tydens die laaste vervelling ontwikkel. Oerinsekte vervel nadat hulle geslagsryp is, wat beteken dat hulle aanhou groei en dat daar geen groot verskil na elke vervelling sigbaar is nie. Hemimetaboliese insekte hou op vervel nadat hulle geslagsryp is en die fisiologiese veranderings van elke vervelling is diepgaande.

Sowel oerinsekte as die hoër insekte het 'n liggaam wat uit drie segmente, naamlik die kop, borsstuk en agterlyf, bestaan, terwyl daar ook drie paar gelede pote aanwesig is. Oerinsekte se agterlywe is gewoonlik stomp en party dra aanhangsels wat soms as springapparaat gebruik word. Die Apterygota bestaan uit vier ordes, naamlik die Protura, Diplura, Collembola en Thysanura.

Geeneen het vlerke nie en ondergaan ook nie 'n metamorfose nie. Buiten hierdie eienskappe toon die diere egter min ander onderlinge ooreenkomste. Die Thysanura (vismotte) is waarskynlik verteenwoordigend van die oerinsekte, waaruit die hoër insekte ontwikkel het, en word as die subklas Apterygota se hoogste ontwikkelde groep beskou. Die Protura en Collembola het waarskynlik vroeg van die insektevoorouerlyn – afgewyk, en aangesien hulle min evolusionêre vordering toon, verteenwoordig die diere ’n evolusionêre dooie punt.

Dit is waarskynlik dat die insektevoorouers uit duisendpootagtige diere ontwikkel het, want abdominale aanhangsels op die agterlywe van Diplura en Thysanura soortgelyk aan die van duisendpote, dui op so 'n evolusionêre verwantskap. Omdat die erdvlooie of springsterte (Collembola) se eienskappe baie verskil en hul lewenswyse so gespesialiseer is, word hulle afsonderlik bespreek.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy