Oranjeorde

Die Oranje-optog van 2009 in Armagh

Die Oranjeorde (Engels: Orange Order, amptelik: Loyal Orange Institution) is 'n Protestantse broederskap wat sy grootste aanhang in Noord-Ierland het, met verdere losies wat hoofsaaklik in die Skotse Laaglande, maar ook elders in die Britse Statebond gevestig is, met outonome losies in Skotland, Engeland, die Verenigde State, Wes-Afrika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland.[1] Die orde is in 1795 in Loughgall in die graafskap Armagh gedurende 'n periode van sektariese Konflikte tussen Protestante en Katolieke volgens die voorbeeld van Vrymesselaarlosies gestig om die Protestantse oorheersing van Ierland (Protestant Ascendancy) te handhaaf.

Die orde word bestuur deur die Grand Orange Lodge of Ireland wat in 1798 gevestig is en sy setel in Belfast het. Sy huidige grootmeester, Edward Stevenson, 'n boer van Ardstraw in die graafskap Tyrone, beklee die amp sedert 2011.[2] Die naam van die orde verwys na die koning-stadhouer Willem III van Oranje, 'n boorling van Nederland, wat in die oorlog tussen Willemiete en Jakobiete 'n militêre oorwinning oor die leër van sy Katolieke teenstander, koning Jakobus II, behaal het.

Hulle is veral bekend vir hul jaarlikse Oranje-optogte op of rondom 12 Julie (The Twelfth), wat onder andere deur Katolieke buurte loop en dikwels vir ongerymdhede sorg. Lede van die Oranjeorde dra oranje serpe en word Orangemen, Orangists of defenders genoem.

  1. The Orange Order: Welcome to the Grand Orange Lodge. Besoek op 27 Augustus 2017
  2. "News Letter, 9 Desember 2015: Edward Stevenson re-elected as Orange Grand Master. Besoek op 27 Augustus 2017". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Julie 2018. Besoek op 27 Augustus 2017.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy