Paddastoel

Paddastoel
Die giftige paddastoel Amanita muscaria
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Divisie:

'n Paddastoel (of sampioen) is die vrugliggame van sekere fungi met 'n groot oppervlakte aan die binnekant waarop spore gedra word. Wanneer hierdie spore vrygestel word, ontkiem hulle en vorm 'n netwerk ondergrondse drade, die miselium. Nuwe vrugliggame ontstaan dan gewoonlik in die reënseisoen uit hierdie miselium.

Die giftige Amanita Pantherina het, soos die ander Amanita-spesies, wit vratjies op die hoed en 'n beurs rondom die steel

Paddastoele het, soos alle ander fungi, geen chlorofil nie en moet hulle voedingstowwe gevolglik uit dooie of lewende organiese materiaal verkry. Die wat hulle voedingstowwe so verkry, speel 'n belangrike rol in die stofkringloop, omdat die dooie plant- en dieremateriaal afgebreek en die minerale voedingstowwe daarin vrygestel word, sodat dit weer deur plante opgeneem kan word. 'n Groot aantal paddastoelspesies is reeds ontdek en nuwe spesies word steeds ontdek.

Sekere spesies is eetbaar en word reeds eeue lank as 'n lekkerny beskou. Daar is egter geen vaste reël op grond waarvan eetbare spesies van nie-eetbare spesies onderskei kan word nie. In die omgangstaal word eetbare paddastoele meestal sampioene genoem, maar in werklikheid is daar geen verskil tussen paddastoele en sampioene nie. Paddastoele het reeds van ouds af die mens se belangstelling gewek en veral die skielike verskyning van dikwels groot getalle vrugliggame was vir natuurliefhebbers 'n raaisel.

Vandag is dit bekend dat die lewensiklus van 'n paddastoel begin met die ontkieming van 'n spoor, waaruit 'n netwerk van swamdrade of hifes met tweekernige selle ontwikkel. Die hele netwerk staan bekend as ’n miselium, en uit die miselium ontwikkel die vrugliggame. Laasgenoemde begin as 'n onderaardse knop wat deur die opneem van water tot 10 of 20 maal sy oorspronklike grootte swel, deur die grond bars en as 'n paddastoel bo die grond verskyn.

Dit is die rede waarom paddastoele so dikwels na reëns verskyn. 'n Paddastoel bestaan meestal uit 'n hoed en 'n steel, maar ander vorme is ook moontlik. Fragmente van die oorspronklike omhulsel (velum) waarbinne die paddastoel ontwikkel, is dikwels nog in die vorm van vratjies op die hoed en ’n beurs rondom die steel aanwesig. Dit is byvoorbeeld duidelik sigbaar by die vlieëswam (Amanita muscaria). Die onderkant van die hoed neem by die meeste spesies die vorm van 'n groot aantal plaatjies of lamelle aan waarop die spore gedra word en waardeur die oppervlakte geweldig vergroot word.

By ander paddastoele is die onderkant van die hoed sponsagtig, ook met die doel om die oppervlakte te vergroot. Die spore is mikroskopies klein (2 tot 20 ) en aangesien die spoorvormende oppervlakte baie groot is, kan een paddastoel miljoene spore produseer. Die hele vrugliggaam, insluitende die lamelle of die sponsweefsel, bestaan uit 'n gemodifiseerde miselium.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy