Plantverdeling

Die Yecoro-koringkultivar (regs) is sensitief vir soutgehalte, terwyl 'n hibriedkruising met kultivar W4910 (links) groter toleransie vir hoë soutgehalte toon

Plantveredeling is die teel van nuwe plantkultivars met sekere gewenste eienskappe.[1] Dit word meestal bereik deur sekere plante te selekteer en onderling te kruis. Die belangrikste verbeterings wat nagestreef word, is verhoging in produksie, kwaliteit en bestandheid teen siektes.[2]

Genetika en plantfisiologie is albei wetenskappe wat 'n groot bydrae tot plantveredeling lewer en die geweldige ontwikkeling van hierdie wetenskappe het gelei tot ʼn soortgelyke ontwikkeling in plantveredeling. In plantveredeling word die genetiese samestelling van bestaande nuttige gewasse sodanig verander dat die gewasse meer produseer, van hoër kwaliteit is en meer bestand is teen siektes.[2] Graansoorte word byvoorbeeld vir 'n hoër saadproduksie geteel, blaargroentes vir groter blare, vrugte vir groter, beter voorkoms en aantal, ensovoorts.

Ook ander tipes gewasse soos dennebome word geteel vir beter produksie, beter hout, ensovoorts. Die chemiese bestryding van siektes en plae was lank suksesvol, maar lewer al hoe meer probleme. Die insekte en ander organismes raak byvoorbeeld immuun teen baie van die chemiese stowwe, besoedeling skep al hoe meer probleme en die bestrydingsproses word al hoe duurder. Daarom word heelwat tyd en geld bestee aan die teel van kultivars wat bestand is teen siektes en plae.

In sulke teelprogramme word gepoog om hoë produksie en kwaliteit te kombineer met ʼn bestandheid teen siektes. Dikwels ontwikkel daar egter weer nuwe patogeniese (siekteveroorsakende) organismes wat deur die bestandheid kan dring, en moet daar weer nuwe kultivars geteel word. Soms word gewasse slegs so geteel dat hulle gedeeltelik bestand is en dan nog wel deur die patogeniese organismes aangeval word, maar heelwat minder skade ondervind. Patogeniese organismes pas nie so vinnig aan by sulke plante as by plante wat geheel en al bestand is nie.

  1. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Sleper-Poehlman
  2. 2,0 2,1 Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Hartung-Schiemann

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy