Pop

Nota: Indien u op hierdie bladsy beland vanaf 'n musikant se artikel of musiekgenre, verander die skakel asseblief na popmusiek.
Fifi en Jane - Paryse poppe

Hoewel die pop as 'n redelik natuurgetroue weergawe van die menslike figuur tradisioneel hoofsaaklik 'n speelding was, het dit mettertyd ook verskeie ander funksies bygekry, byvoorbeeld as marionet in die poppeteater en as model by die vervaardiging en vertoon van klere.

Aangesien besonder mooi poppe veral in die 17e en 18e eeu vervaardig is, was hulle dikwels gewilde versamelstukke. Suid-Afrikaanse poppe is na die Eerste Wêreldoorlog vir die eerste keer bemark en was toe van lap gemaak. Dit is soms moeilik om ʼn onderskeid te maak tussen die pop as speelding en as afgod of fetisj met 'n religieuse funksie. Die nabootsing van die menslike figuur as kultusvoorwerp is by talle godsdienste bekend en die pop se magiese funksie blyk uit onder meer die gewoonte van sommige volke om dit met naalde te deurboor ten einde die vyand simbolies skade te berokken.

In Japan en by sommige Afrika-volke, byvoorbeeld die Asjanti, het die vroue babapoppe met hulle saamgedra om vrugbaarheid te bevorder, terwyl die Noord-Amerikaanse Hopi-Rooihuide volgens religieuse gebruik die katsjina - 'n pop wat bonatuurlike magte voorstel - aan hul kinders as speelding gee. In Japan word die daroema, 'n pop waarvan die oë deur 2 stukkies wit papier vervang is, in tempels te koop aangebied. Wanneer 'n wens uitgespreek word, word 'n pupil op een van die papierogies geteken en indien die wens vervul word, word die ander pupil ook ingeteken.

Dit bly 'n omstrede kwessie of die oorsprong van die pop geleë is in prehistoriese afgode en wy- of begrafnisbeeldjies, al dan nie. Die funksie van die pop as speelding kan wel tot diep in die geskiedenis teruggevoer word, maar daarnaas het die ander baie ou gebruike ook bly voortbestaan. Poppe is byvoorbeeld reeds in die 14e eeu van Parys na ander stede gestuur om die howelinge op die hoogte van die jongste modes te hou en kan dus as 'n voorloper van die moderne modetydskrif beskou word.

Sierpoppe wat verskillend geklee is, het sedert die wêreldtentoonstellings in die 19e eeu baie gewilde versamelstukke geword. 'n Bekende voorbeeld is die Russiese matresjka, wat bestaan uit 5 houtpoppe van verskillende groottes wat inmekaarpas en die opeenvolgende geslagte voorstel. Poppe word ook as marionette in die poppeteater of as modelle by die vervaardiging en vertoon van klere gebruik.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy