Proteaceae

Proteaceae
'n Koningsprotea.
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eudicots
Orde: Proteales
Familie: Proteaceae
Juss.
Genera
Omtrent 64; sien teks.

Proteaceae is die proteafamilie wat hoort tot die orde Proteales. Die familie is groot en kom meestal in die Suidelike Halfrond voor, veral Australië en Suid-Afrika. Wêreldwyd behoort daar 2000 spesies in 64 genera aan die familie waarvan 1300 spesies in Suid-Afrika voorkom via veertien genera insluitende die bekende genus Protea. Die veertien Suid-Afrikaanse genera bestaan uit ongeveer 400 spesies en tien van die veertien genera kom slegs in die Wes-Kaap, die winterreënvalstreek, voor. Sestig van die spesies in Suid-Afrika is bome.

Proteaceae is bekend vir hul prag en rykheid en blom meestal in Wes-Kaapland aan die begin van die winter. Die koningsprotea is Suid-Afrika se nasionale blom en ook die embleem van Suid-Afrika se nasionale krieketspan. Spesies van die proteafamilie groei meestal in arm, suur, sanderige grond teen berghange van sandsteen, kwartsiet of graniet en is aangepas by periodieke veldbrande.

Wanneer te gereeld gebrand word, word hulle egter uitgeroei omdat hulle nie kans kry om saad te skiet nie. Die genera Protea en Faurea is die enigstes van die familie wat tot in Midde-Afrika voorkom en laasgenoemde het ook verteenwoordigers in Madagaskar. Slegs vyf spesies van die genus Faurea kom in Suid-Afrika voor.

Ongeveer 100 van die 130 Protea-spesies en 38 van die 40 speldekussings (Leucospermum) kom in Suid-Afrika voor. Die wat nie in die Wes-Kaap voorkom nie, groei meestal op hoogliggende dele met 'n hoë reënval, waar hulle ook dikwels mis kry. Die veertien genera van die proteafamilie wat in Suid-Afrika voorkom, is Protea (suikerbosse), Leucospermum (speldekussings), Leucadendron (tolbosse), Serruria (spinnekopbosse), Mimetes (stompies), Brabejum (wilde-amandel), Orothamnus (vleiroos), Faurea (boekenhout), Aulax (kanariebosse), Paranomus (septers), Spatalla (wolbosse), Diastella, Vexatorella en Sorocephalus (kwassies).

Die struktuur wat algemeen as die blom van 'n lid van die proteafamilie beskou word, is in werklikheid nie 'n blom nie maar 'n versameling blomme wat by die proteas en 'n paar ander genera deur groot, gekleurde skutblare omring is om 'n hofie of blomkop te vorm. Die individuele langwerpige blomme het geen afsonderlike kelk en kroon nie, maar 'n blomdek of periant wat uit vier dele bestaan.

Vier meeldrade is in lepelvormige holtes in die periantdele geleë. Wanneer die blom toe is, is die harige periant om die stamper gevou, en wanneer die blom oopgaan, buig die styl om die stempel uit die periant te trek en die slap periantdele sak dan af. Veral by die speldekussings (genus Leucospermum) is die style en stempels baie prominent.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy