Spyker

Spykers

'n Spyker is 'n metaalvoorwerp met 'n plat kop en 'n lang skerp punt. 'n Hamer word gebruik om dit in 'n ander voorwerp in te slaan. Dit word meestal gebruik om twee voorwerpe saam te voeg. So kan twee stukke hout byvoorbeeld aan mekaar vasgeslaan word.

Ysterspykers wat met die hand gesmee is, is lank reeds bekend, maar teenswoordig word hoofsaaklik draadspykers gebruik wat in 'n masjien uit staaldraad vervaardig word. U-vormige klampspykers en kramme word ook as spykers geklassifiseer.

Koperspykers is bykans 4 000 jaar gelede al in Mesopotamië en Egipte gebruik. Argeologiese opgrawings in Skotland het nagenoeg 7 ton spykers blootgelê, wat waarskynlik van Romeinse oorsprong was. Die spykers was met die hand gesmee. Spykers is van die 16e eeu af met masjiene gemaak. 'n Spykermeul wat deur water aangedryf is, is vir die slaan van ysterspykers gebruik.

Vandag is die ysterspyker byna heeltemal vervang deur die draadspyker, wat op 'n masjien uit 'n rol yster- of staaldraad vervaardig word. In die spykermasjien word die draad in die verlangde lengtes gesny, reguit getrek en vasgeklem. 'n Hamer stuit die een punt van die draad, terwyl die ander punt tot 'n skerp punt saamgepers word.

Terwyl die draad vasgeklem word, word ringe of oorlangse groewe in die spyker gepers wat later vir die stewige hegting van die spyker sorg. Dit word dikwels 'n profielspyker genoem. Afhangende van die lengte van die spykers kan die spykermasjien 100 tot 1 000 spykers per minuut maak.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy