Trafalgarplein (Engels: Trafalgar Square [ˌtrəˈfælɡər]) is 'n openbare plein in die City of Westminster, Sentraal-London, wat rondom die historiese Charing Cross ontstaan het. Sy naam is ter herdenking aan die Britse Vloot se oorwinning in die Seeslag van Trafalgar op 21 Oktober 1805 gekies, een van die belangrikste militêre gebeurtenisse gedurende die Napoleontiese Oorloë met Frankryk en Spanje.
Die huidige plein se perseel was reeds in die 13de eeu een van die bekendste bakens in die destydse Engelse hoofstad wat die Koninklike Perdestalle (Royal Mews) gehuisves het. Nadat dié stalle tydens die regering van koning George IV na die Buckingham-paleis verskuif is, is die buurt volgens 'n ontwerp van die befaamde argitek John Nash herontwikkel. Ná Nash se afsterwe het die bouwerk egter net stadig gevorder sodat die plein eers in 1844 geopen kon word.
Die sentrale monument op Trafalgarplein is Nelson se kolom wat deur vier leeue-standbeelde bewaak word, naas 'n aantal ander monumente en standbeelde wat hier opgerig is. Net die Vierde (noordwestelike) Plint is sedert 1840 vrygelaat en vanaf 1999 vir wisselende vertonings van moderne kuns gebruik.
Die vernaamste geboue op en rondom die plein is die Nasionale Kunsgalery (National Gallery), Admiralty Arch ('n triomfboogvormige gebou wat as poort tot The Mall dien), Suid-Afrika-huis en Kanada-huis (die setels van dié twee lande se Hoë Kommissies in die Verenigde Koninkryk) en die kerk St Martin-in-the-Fields.
Die plein is 'n gewilde plek vir gemeenskapsvergaderings en politieke betogings, waaronder die Bloedige Sondag van 1887, die eerste Aldermaston-optog, anti-oorlogsbetogings en veldtogte teen globale klimaatsverandering. Trafalgarplein se bekende kersboom is 'n geskenk van Noorweë wat sedert 1947 jaarliks tydens twaalf dae voor en twaalf dae ná Kersfees verlig word. Die plein staan daarnaas sentraal in die Oujaarsaandvieringe van Londenaars.