Tweeling

Vir inligting oor die dorp in die Vrystaat, sien Tweeling, Vrystaat. Tweelinggeboortes gebeur in die meeste soogdierspesies. Hierdie artikel gaan oor menslike biologiese tweelinge. Om inligting te verkry oor tweeling- en meervoudige geboortes in ander diere, sien meervoudige geboorte.
Tweelinge – Skildery deur William-Adolphe Bouguereau (1825–1905)

'n Tweeling is twee persone wat terselfdertyd ontwikkel het in 'n uterus tydens 'n enkele swangerskap.[1] Hulle word gewoonlik, maar nie noodwendig nie, kort na mekaar gebore. Omdat die menslike uterus net 'n beperkte grootte het, gebeur dit gewoonlik dat enige swangerskap met meer as een fetus nie die volle tyd loop nie. Tweelingswangerskappe duur meestal tot 36 weke.[2]

Tweelinge en ander meerlinge (drielinge, vierlinge, ensovoorts)[3] groei en ontwikkel gelyktydig in die baarmoeder, elkeen met sy/ haar eie plasenta en embrionale vliese en hulle word direk na mekaar gebore. 'n Tweeling is identies indien dit ontstaan deur die splitsing van een bevrugte eiersel; die kinders is dan identies wat hul erflike eienskappe betref.[4] 'n Siamese tweeling ontstaan deur onvolledige skeiding van die eiersel en sodoende is die twee kinders aan mekaar vasgegroei.

'n Gewone tweeling ontstaan uit twee afsonderlik bevrugte eierselle. Hoe groter die getal kinders is, hoe moeiliker is die swangerskap en hoe laer is die kinders se kans op oorlewing. Terwyl dit by baie soogdiere heeltemal normaal is om by ʼn swangerskap meer as een vrug te hê wat ontwikkel, is meervoudige swangerskappe by die mens baie skaarser.

By slegs een uit 80 menslike swangerskappe is daar sprake van 'n tweelingswangerskap,[5] een uit 802 (6 400) swangerskappe eindig in die geboorte van 'n drieling en een uit 1 803 (51 200) in die geboorte van 'n vierling. Oor die algemeen produseer die vrou tydens haar vrugbare leeftyd maandeliks een eiersel, waaruit na versmelting met 'n saadsel (sperm) 'n embrio ontwikkel. Hierdie embrio is met die moeder in verbinding deur middel van die plasenta (nageboorte) en besit twee embrionale vliese wat die embrio met sy amniotiese vloeistof omring. By tweelinge word daar 'n onderskeid getref tussen identiese tweelinge en nie-identiese tweelinge.

  1. MedicineNet > Definition of Twin Geargiveer 22 Oktober 2013 op Wayback Machine Last Editorial Review: 19 June 2000
  2. Abstract: The uterine capacity measured by the total twin birth weight and duration of twin pregnancy
  3. "Twins, Triplets, Multiple Births: MedlinePlus". Nlm.nih.gov. Besoek op 16 Junie 2016.
  4. Michael R. Cummings, 5-7 Twin Studies and Complex Traits in "Human Heredity Principles and issues" p. 104.
  5. Martin, Joyce A.; Hamilton, Brady E.; Osterman, Michelle J.K. "Three Decades of Twin Births in the United States, 1980–2009" [1], National Center for Health Statistics Data Brief, No. 80, January 2012

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy