Verstekwaarde

'n Verstekwaarde (Engels: default value) is 'n waarde wat gebruik of toegeken word as een nie verskaf word nie. Dit word tipies in sagtewareontwikkeling gebruik om 'n waarde aan 'n veranderlike toe te ken as die gebruiker dit oorslaan of 'n vooraf ingevulde waarde aanvaar. In so 'n geval word 'n waarde by verstek deur die program of toestel toegeken.

'n Verstekwaarde is gewoonlik voor die hand liggend. Om 'n paar voorbeelde te noem:

  • As items aanlyn gekoop word, word aangeneem dat die persoon een item per soort sal neem. Die waarde "1" word dus vooraf ingevul, en kan gewysig of so aanvaar word.
  • As 'n treinrit bespreek word, kan 'n program aanneem dat die gebruiker dit "vandag" wil doen. Indien nie, sal die gebruiker die verstek tydwaarde moet verander.
  • Gedeeltes van 'n gebruiker se afleweringsadres (bv. land van verblyf) kan volgens sy IP-adres bepaal en vooraf ingevul word.

Verstekwaardes help om programme en elektroniese toestelle meer gebruikersvriendelik te maak. Dit spaar die gebruiker die moeite om 'n waarde in te vul. Verstekwaardes is dus 'n noodsaaklike element van minimalistiese gebruikerskoppelvlakke en kan help om gebruikersfoute te vermy.

Voorafbepaalde verstekwaardes word gewoonlik deur die ontwikkelaar gekies in 'n poging om dit makliker en vinniger te maak om die produk te gebruik. Sommige programme laat mense ook toe om verstekwaardes in hul persoonlike voorkeure te stoor. Webwerwe kan ook koekies gebruik om voorkeure te stoor en velde vooraf in te vul. Kunsmatige intelligensie kan selfs ingespan word om die gebruikers se voorkeure aan te leer.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy