Waikiki

'n Skemer-uitsig oor Waikiki-strand

Waikiki [ʋaikiːkiː] is 'n stadswyk van Honolulu (Hawaii, Verenigde State) aan die suidkus van die eiland Oahu met 'n oppervlak van twee vierkante kilometer en 19 720 inwoners (2000).

Waikiki lê in die suidooste van Honolulu en strek van die Ala Wai-kanaal (wat gegrawe is om die vroeëre moerasgebiede droog te lê) in die weste en noorde tot by die bergspits Diamond Head in die ooste. Die naam beteken in Hawaiiaans letterlik "Spuitende Water" en verwys na die bronne en stroompies, wat vroeër in die moerasgebiede uitgemond en Waikiki van die binneland geskei het.

Waikiki, die bekendste toeristeoord van Hawaii, het al eeue lank as 'n ontspanningsplek gedien en is veral deur die Hawaiiaanse koninklike gesin as 'n rusplek gebruik. Vandag word die buurt met sy talle wolkekrabber-hotelle (waaronder die Hilton Hawaiian Village, die Halekulani, die Hyatt Regency Waikiki en die Sheraton Waikiki, asook historiese hotelle uit die vroeë 20ste eeu soos die Moana Surfrider Hotel en die Royal Hawaiian Hotel) as die sentrum van Hawaii se toerismebedryf beskou. Die buurt beskik naas sy luukse hotelle ook oor 'n dieretuin, 'n akwarium en talle winkels.

Waikiki-strand is een van die mees bekendes ter wêreld en spog sedert 2001 met gratis rolprent-vertonings op 'n 30-voet-skerm ("Sunset on the Beach").


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy