X-Men

X-Men
Die logo van die strokiesreeks X-Men.
Die logo van die strokiesreeks X-Men.
Uitgewer Marvel Comics
1ste uitgawe The X-Men #1
September 1963
Hoofkwartier New York
Skeppers Stan Lee
Jack Kirby

Die X-Men is 'n superheldspan in strokiesprentverhale van Marvel Comics. Hulle is geskep deur die kunstenaar Jack Kirby en skrywer Stan Lee, en het die eerste keer verskyn in The X-Men #1 (September 1963).[1] Hoewel die reeks in 1970 gekanselleer is weens lae verkope, is dit in 1975 vernuwe en het dit onder die skrywer Chris Claremont een van die suksesvolste en bes herkenbare franchises van Marvel Comics geword.[2]

Die X-Men-span het in verskeie boeke, televisiereekse, rolprente en videospeletjies verskyn. Die naam X-Men kan dui op die span, die reeks of die groter franchise, wat verskeie titels insluit soos New Mutants, Excalibur en X-Force.

Mutante in die Marvel Universe is mense wat met 'n genetiese eienskap gebore word wat die X-geen genoem word. Dit gee hulle supermenslike karaktertrekke, wat gewoonlik in hulle puberteitsjare na vore kom. Omdat hulle van ander mense verskil, word mutante onderwerp aan vooroordeel en diskriminasie; baie X-Men-stories bevat sosiale kommentaar oor onverdraagsaamheid, geregtigheid en ander politieke temas.

Die X-Men kom teen 'n verskeidenheid vyande te staan, onder andere gemene mutante, menslike bekrompenes, superskurke, misterieuse bedreigings, buiteaardse wesens en kwaadaardige kunsmatige intelligensies. Hulle word meestal aangevoer deur hulle stigter, Charles "Professor X" Xavier, 'n kragtige telepaat wat 'n skool vir mutantekinders uit sy huis in New York bedryf. In die geheim is dit ook die hoofkwartier van die X-Men. Hulle stories sluit dikwels die karakter Magneto in – dié is 'n kragtige mutant met beheer oor magneetvelde; hy word uitgebeeld as 'n ou vriend en later vyand van Xavier, wat afwisselend 'n teenstander en bondgenoot is.

  1. The X-Men #1 (2 Julie 1963)
  2. Prefore, Charles (12 Oktober 2020). "Marvel's X-Men Comics Were Saved By One Man". Screen Rant. Besoek op 1 Maart 2022.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy