Absint

'n Tipiese absintlepel en absintglas waarin die groen drank bedien word

Absint is 'n sterk alkoholiese drank wat tradisioneel van bitter alsem (Artemisia absinthium, in Afrikaans ook bekend as wildeals), anys (Pimpinella anisum), vinkel - en afhangende van die metode - 'n verskeidenheid ander gekruie gestook word. Kenmerkend vir baie absintsoorte is hul groen kleur (die alsem-ekstrak bevat groen chlorofiel-pigmente) sodat na absint ook dikwels as "die groen feetjie" (Frans: la fée verte) verwys word.

Met 'n alkoholgehalte van tussen 45 en 85 persent word absint onder die sterkste dranke gereken en gewoonlik met water verdun voordat dit geniet word. Maar dit is veral die hallusinatoriese uitwerking van bitter alsem wat 'n slegte reputasie aan absint besorg het. In sy oorsprongsgebied, die Val de Travers in die huidige Switserse kanton Neuchâtel, is absint vanaf 1792 vanweë sy genesende eienskappe gestook en as 'n "kuur-vir-alles" bemark nadat bitter alsem reeds van oudsher as genesende kruid gebruik is.[1] Die plant is antisepties en het die vermoë om inwendige wurms te verdryf en om die baarmoeder te stimuleer. Dit is daarnaas ook as insekweerder ingespan.[2]

In die tweede helfte van die 19de en in die vroeë 20ste eeu het absint veral in Frankryk baie gewild geraak as die gunstelingdrank van kunstenaars, skrywers en ander kreatiewe siele. Bekende absintdrinkers het onder meer Charles Baudelaire, Paul Gauguin, Vincent van Gogh, Ernest Hemingway, Edgar Allan Poe, Arthur Rimbaud, Aleister Crowley, Henri de Toulouse-Lautrec en Oscar Wilde ingesluit. Absint is indertyd dikwels vereenselwig met dekadensie en 'n boheemse leefstyl, en ná 'n reeks opspraakwekkende voorvalle - daar was selfs bewerings dat die Nederlandse skilder Vincent van Gogh onder die invloed van absint nie net skilderye met lewendige groen kleure geskep het nie, maar ook 'n deel van sy linkeroor afgesny het - het die drank weens die verslawende effek en ander sosiale euwels, wat daarmee geassosieer is, onder skoot gekom. Die stook van absint is in baie lande vir die grootste deel van die 20ste eeu heeltemal verbied.[3]

Die mees verdagte bestanddele was thujone, ook absintol of tanasetoon genoem - 'n groep van bisikliese monoterpeen-ketone. Thujone is kleurlose vloeistowwe met 'n mentholagtige geur wat in die eteriese olies van onder meer wilde alsem, thuja, tiemie, salie en roosmaryn voorkom.

Moderne navorsing het die mites rondom absint hok geslaan. Die gesondheidskade, wat die drink van absint in die 19de en vroeë 20ste eeu na bewering aangerig het, word deesdae toegeskryf aan die slegte gehalte van destydse alsem-ekstrakte, oordosering daarvan en die groot hoeveelhede alkohol wat mense in dié tyd gedrink het. Sedert 1998 mag absint in die meeste Europese lande weer gedistilleer, verkoop en gedrink word. Dieselfde geld vir Suid-Afrika.

  1. Die Burger, 23 Oktober 2002: Et voila, la Fée Verte!
  2. Gerty Christoffels en Ivo Pauwels: Gekruid. Kaapstad: Struik Uitgewers 2006, bl. 101
  3. BBC Culture, 9 Januarie 2014 - Absinthe: How the Green Fairy became literature’s drink

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy