Anchesenamen

Anchesenamen
Anchesenpaaten
Koningin van die 18de Dinastie
Periode Omstreeks 1332–1323 v.C.
Vader Achenaten
Moeder Nefertiti
Gade(s) Achenaten (pa/oom)
Toetankamen (halfbroer)
Ai (oupa/oom)
Gebore Omstreeks 1348 v.C.
Oorlede Omstreeks 1322 v.C. (op sowat 26)
Portaal  Portaalicoon   Antieke Egipte

Anchesenamen (ˁnḫ-s-n-imn, "Haar Lewe is van Amen"; omstreeks 1348 – ná 1322 v.C.) was ’n koningin van die 18de Dinastie van Egipte. Sy is as Anchesenpaaten gebore en was die derde van ses bekende dogters van farao Achenaten en sy hoofkoningin, Nefertiti. Sy het later die hoofkoningin van haar halfbroer, Toetankamen, geword.[1] Die verandering in haar naam weerspieël die veranderings in Antieke Egipte se godsdiens ná haar pa se dood.

Sy word as jong vrou goed verteenwoordig in die antieke skilderings en reliëfwerke uit haar ouers se bewind. Sy en Toetankamen het dieselfde pa gehad, maar onlangs is met DNS-toetse vasgestel Toetankamen se ma was een van Achenaten se onbekende susters, wie se mummie Die Jonger Dame genoem word. Sy en Achenaten was die kinders van Amenhotep III.

Anchesenamen is moontlik in die vierde jaar van Achenaten se bewind gebore en teen die 12de jaar het sy drie jonger susters gehad. Ná Toetankamen se dood was sy vermoedelik met sy opvolger, Ai, getroud wat sommige glo haar oupa aan moederskant was.[2]

DNS-toetse in Februarie 2010 dui ook op die moontlikheid dat een van die twee mummies van koninginne uit die 18de Dinastie wat in tombe KV21 ontdek is, sy kon gewees het. Volgens die toetse was albei moontlik lede van die koningshuis.[3]

  1. Dodson, Aidan; Dyan Hilton (2004). The Complete Royal Families of Ancient Egypt. Thames & Hudson. p. 148.
  2. Grajetzki, Wolfram (2000). Ancient Egyptian Queens; a hieroglyphic dictionary. Londen: Golden House. p. 64.
  3. Lorenzi, Rosella. "King Tut Felled by Malaria, Bone Disease." Discovery News, 16 Februarie 2010. URL: King Tut DNA lineage

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy