Asterix

Asterix
Asterix en Obelix op 'n muur in Hagen (Duitsland)
Asterix en Obelix op 'n muur in Hagen (Duitsland)

Skepping
Eerste verskyning Asterix die Galliër (1959)
Geskep deur René Goscinny
Albert Uderzo
Inligting
Ander name Astérix (Gaul)
Spesie Mens
Geslag Manlik
Nasionaliteit Gallië

Asterix (Frans: Astérix) is die hoofkarakter in 'n Franse strokiesprent wat in die Antieke Mediterreense wêreld afspeel. Hy is 'n kort, koddige Galliese soldaat met 'n groot geel snor. Saam met sy groot vriend Obelix sê hy telkens die Romeine[1] die stryd aan.

Met die publikasie van die eerste uitgawe van die Franse tydskrif Pilote op 29 Oktober 1959 sien Asterix en sy vriende die lig. Later sou Asterix in boekvorm uitgegee word. Hierdie verhale is deur René Goscinny geskryf en deur Albert Uderzo geïllustreer. Ná die dood van Goscinny in 1977, het Uderzo met die reeks voortgegaan. Sedert 2013 word Asterix deur Jean-Yves Ferri geskryf en deur Didier Conrad geïllustreer. Die laaste vier boeke waaronder Asterix by die Pikte en Asterix en die Verlore Papirusrol, kom uit hulle hand. Dit is die eerste boeke, nie uit die hande van een van die skeppers van Asterix en sy wêreld nie, wat die lig gesien het.

Die 39 hoofboeke (een is 'n samestelling van kortverhale) is in meer as 'n honderd tale en dialekte vertaal. Die tale wissel van Afrikaans tot Wallies en sluit selfs Latyn en antieke Grieks in. Dié verhale is waarskynlik die gewildste Franse strokiesverhale ter wêreld, en baie bekend veral aan die Europeërs. Die sleutel tot die sukses van die boeke is dat daar humor in is vir alle ouderdomme: kinders hou van die visuele aksie, soos vuisgevegte, en volwassenes waardeer weer die intelligensie van die verwysings en woordspelings wat die teks kenmerk.

(Die Afrikaanse name wat in dié artikel gebruik word, is gebaseer op die vertaalwerk van Sonya van Schalkwyk-Barrois vir die uitgewer Protea. E.P. du Plessis en Ludwig Visser se vertalings vir die uitgewer Human en Rousseau volg in hakies).

Verskeie boeke is in films verwerk, waarvan sommige animasierolprente was en ander werklike akteurs gebruik het.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy