Bantoevolke | |
---|---|
Verspreiding van die Bantoevolke. | |
Totale bevolking: | onbekend |
Belangrike bevolkings in: | Groot Mere van Afrika, Sentraal-Afrika, Afrika suid van die Sahara |
Taal: | Bantoetale (meer as 535) |
Geloofsoortuiging: | Meerderheid: Christendom Minderheid: tradisionele Afrika-godsdienste, Islam, animisme |
Verwante etniese groepe: | Ander Niger-Kongo-volke |
Bantoevolke is ’n algemene term vir 300 tot 600 verskillende etniese groepe in Afrika wat van Kameroen tot Suid-Afrika voorkom. Hierdie groepe deel ’n taalfamilie en in baie gevalle dieselfde gebruike.[1] Daar is sowat 650 Bantoetale.
Sprekers van die proto-Bantoetaal het sowat 3 000 jaar gelede ’n millennia lange reeks migrasies ooswaarts begin vanaf hul tuisland tussen Wes- en Sentraal-Afrika, op die grens tussen die hedendaagse Oos-Nigerië en Kameroen.[2] So het Bantoevolke na Sentraal-, Suider- en Suidoos-Afrika versprei – streke waar hulle nie voorheen voorgekom het nie. Die migrante het in die proses vermeng geraak met vroeëre bewoners wat hulle teengekom het, of hulle vervang. Dit sluit pigmee- en Khoisan-bevolkings van onderskeidelik die sentrale en suidelike dele van Afrika in. Hulle het ook Afro-Asiatiese groepe teengekom wat vroeër uit Noord-Afrika migreer het.[3][4]
Individuele Bantoegroepe bestaan vandag uit miljoene mense. Onder hulle is die Ndebele en Shona van Zimbabwe met 14,2 miljoen mense; die Luba van die Demokratiese Republiek van die Kongo met meer as 13,5 miljoen mense; die Zoeloes van Suid-Afrika met meer as 10 miljoen mense; die Sukuma van Tanzanië met sowat 8 miljoen mense en die Kikuyu van Kenia met meer as 6 miljoen mense. Hoewel net sowat 5 miljoen mense Swahili as hul moedertaal praat,[5] word dit deur sowat 100 miljoen mense in Suidoos-Afrika as ’n lingua franca gebruik.[6] Dit is ook een van die amptelike tale van die Afrika-unie.