Bewoonbare sone

’n Stelsel vir die voorspelling van die bewoonbare sone om verskillende soorte sterre, gebaseer op ligsterkte.

Bewoonbare sone is in sterrekunde ’n term wat gebruik word vir die streek om ’n ster waarin ’n planeet of maan met genoeg atmosferiese druk vloeibare water op sy oppervlak kan hê.[1] Die term word gebruik vir toestande soos wat op die Aarde nodig is vir lewe – aangesien water noodsaaklik is vir alle bekende lewensvorme, word planete in dié sone beskou as die belowendste plekke vir lewe in die ruimte. Die terme "ekosfeer" en "vloeibarewatergordel" is in 1953 deur Hubertus Strughold en Harlow Shapley onderskeidelik gebruik.[2] Daar word ook soms van "lewensone" of "Gouelokkies-sone" gepraat.[3]

Die term bewoonbare sone word soms meer algemeen gebruik vir verskeie streke wat moontlik die een of ander vorm van lewe kan huisves. Een voorbeeld is die "galaktiese bewoonbare sone", wat in 1995 deur die sterrekundige Guillermo Gonzalez uitgedink is en dui op die afstand vanaf die galaktiese middel, gebaseer op ons Sonnestelsel se posisie in die Melkweg. As meer as een bewoonbare sone ter sprake is, word die interseksie van die sones gebruik vir die plek waar daar die grootste moontlikheid van lewe is.

Die ligging van ’n planeet of maan in die ster se bewoonbare sone en ’n byna-sirkelvormige wentelbaan is maar twee van die kriteria vir bewoonbaarheid. Dit is teoreties moontlik dat lewe buite die bewoonbare sone kan voorkom. Die term "Gouelokkies-sone" word dikwels gebruik vir aardagtige planete met toestande wat min of meer met dié op Aarde ooreenstem. Die naam kom van die verhaal Die Drie Beertjies, waarin ’n dogtertjie kies tussen die drie bakkies pap. Sy ignoreer die twee wat te groot, te klein, te warm of te koud is en kies die een wat "net reg" is. Net so is ’n planeet in die Gouelokkies-sone nie te naby of nie te ver van ’n ster om vloeibare water op sy oppervlak te kan hê nie. Tientalle planete is al in bewoonbare sones gevind, hoewel hulle almal heelwat groter as die Aarde is – moontlik omdat groter planete makliker is om waar te neem. Daar is moontlik tans minstens 500 miljoen sulke planete in die Melkweg.[4]

Bewoonbare sones is egter nie stabiel nie. Gedurende ’n ster se leeftyd verander en verskuif die sone.[5] Hemelliggame in die sone is tipies baie na aan die ster en is dus meer blootgestel aan ongunstige invloede soos getykragte en stervlamme. Saam met galaktiese bewoonbaarheid sorg dié en ander faktore vir ’n teenoorgestelde teorie van interstellêre "dooie gebiede" waar lewe nie kan voorkom nie. Sommige wetenskaplikes glo die teorie is te simplisties en steun neem toe vir ekwivalente sones om sterre waar ander oplosmiddels (soos ammoniak en metaan) in ’n stabiele vloeibare vorm kan voorkom. Dit kan bevordelik wees vir alternatiewe biochemie.[6] Daar is waarskynlik ook talle potensiële habitats buite die bewoonbare sone in onderaardse oseane van vloeibare vloeistowwe, soos oseane van ammoniak of metaan.[7]

  1. "VPL Glossary".
  2. Richard J. Hugget, Geoecology: an evolutionary approach. pg 10
  3. The Goldilocks Zone Geargiveer 14 Julie 2009 op Wayback Machine – Nasa
  4. Borenstein, Seth (19 Februarie 2011). "Cosmic census finds crowd of planets in our galaxy" (in Engels). Associated Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Februarie 2019. Besoek op 24 April 2011.
  5. The Fast Fertile Universe and the Unstable Habitable Zone P. Gabor-sterrewag, Vatikaanstad 2010
  6. Could Alien Life Exist in the Methane Habitable Zone? Keith Cooper, Astrobiology MagazineDate: 16 November 2011
  7. Alien life may life in various habitable zones Geargiveer 1 Mei 2012 op Wayback Machine Ray Villard news.discovery.com 18 November 2011

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy