Boesmans | |
---|---|
San-dorpie in Namibië | |
Totale bevolking: | 90 000+ |
Belangrike bevolkings in: | Botswana 55 000 Namibië 27 000 |
Taal: | Khoisan-tale |
Geloofsoortuiging: | San-religie |
Verwante etniese groepe: | Khoikhoi, Xhosa, Basters, Griekwas. |
Die Boesmans of die San is 'n volk wat woonagtig is in Suider-Afrika. Hulle was oorspronklik jagter-versamelaars, deel van die Khoisan-groep en verwant aan die Khoikhoi wat, in teenstelling met die San, nomadiese veeboere was. Die Boesmans word beskou as die oorspronklike inwoners van Suid-Afrika en woon reeds 40 000 jaar lank in die suidweste van die land. Uit die gebied wat vandag as Botswana bekend staan, het die Khoikhoi waarskynlik 2 000 jaar gelede na die Kaapprovinsie getrek, waar hulle die San aangetref het. Europeërs het hulle Hottentotte genoem, 'n verwysing na hul taal wat volgens die blankes só hortend gepraat is dat dit geklink het soos "hot" en "tot".[1] Hierdie twee groepe het saamgesmelt en staan vandag bekend as die Khoisan.