Choefoe

Choefoe
Ook bekend as Cheops, Khufu,
Chnoem-choef, Soefis
Die standbeeld van Choefoe in die Kaïromuseum.
Die standbeeld van Choefoe in die Kaïromuseum.
Farao van die 4de Dinastie
Periode  2589–2566 v.C.[1][2] (63 jaar volgens Manetho); (23 of 46 volgens moderne historici) [3]
Voorganger  Snofroe
Opvolger  Djedefre
Vader  Snofroe
Moeder  Heteferes I
Oorlede  2566 v.C.
Monumente  Groot Piramide van Giza
Choefoe in Egiptiese hiërogliewe
Serech of Horusnaam
G5
Aa24w
Nebty-naam
G16
Aa24
r
Goue Horus-naam
G8
G5G5
Portaal  Portaalicoon   Antieke Egipte

Choefoe (Engels: Khufu, Grieks: Cheops) was die tweede Egiptiese farao van die 4de Dinastie tydens die eerste helfte van die Ou Ryk van Egipte (26ste eeu v.C.). Hy het sy pa of stiefpa, farao Snofroe, opgevolg. Daar word algemeen aanvaar hy het die Groot Piramide van Giza laat bou wat een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld is, maar baie ander aspekte van sy bewind is swak aangeteken.[3][4]

Die enigste heeltemal bewaarde portret van die koning is 'n klein ivoorbeeldjie wat in 1903 by Abudos ontdek is in die ruïne van 'n tempel uit 'n latere tydperk. Alle ander reliëfs en beelde is in fragmente ontdek, en baie van sy geboue het verlore gegaan. Alles wat van Choefoe bekend is, kom uit inskripsies in sy nekropolis by Giza en latere dokumente.[3][4]

Choefoe se nekropolis en piramide is in die noordoostelike deel van die Gizaplato opgerig, dalk oor die gebrek aan bouruimte en die los gruis by Dahsjoer, waar Snofroe se drie piramides staan. Die klippe is buite glad gepoleer en het geblink. Binne is daar drie kamers: die begrafnis-, beeld- en 'n ondergrondse kamer. 'n Pad van sowat 'n 3/4 km verbind die dodetempel met die valleitempel. Die vorm en grootte van dié tempel is onbekend, want nie eens die fondament is oor nie. Aan die oostekant van die piramide lê die oostelike begraafplaas met die mastabas van prinse en prinsesse. Drie klein satellietpiramides van koninginne is ook daar opgerig. 'n Moontlike deel van Choefoe se begrafniskomplek is die Groot Sfinks, maar dis moeilik om te sê omdat geen perfek bewaarde portret van Choefoe bewaar gebly het om dit te vergelyk nie.

Die meeste dokumente wat koning Choefoe noem, is omstreeks 300 v.C. deur antieke Egiptiese en Griekse historici geskryf. Choefoe se doodsberigte is weersprekend: Terwyl die koning 'n lang kulturele erflating gehad het tydens die Ou en Nuwe Ryk, is die antieke Griekse historici Manetho, Diodorus en Herodotos se beskrywings van sy karakter baie negatief. Vanweë dié dokumente bestaan 'n obskure en kritiese beeld van Choefoe se karakter.[3][4]

  1. Clayton, Peter A. Chronicle of the Pharaohs. p42. Thames and Hudson, London, 2006. ISBN 978-0-500-28628-9
  2. Malek, Jaromir, "The Old Kingdom" in The Oxford History of Ancient Egypt, red. Ian Shaw, Oxford University Press 2000, ISBN 978-0-19-280458-7 p.88
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 Thomas Schneider. Lexikon der Pharaonen. Albatros, Düsseldorf 2002, ISBN 3-491-96053-3, ble. 100–104
  4. 4,0 4,1 4,2 Aidan Dodson. Monarchs of the Nile. American Univ in Cairo Press, 2000, ISBN 977-424-600-4, ble. 29–34

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy