Christelike mitologie

Sint Joris en die Draak, deur Gustave Moreau, 1889-'90.

Christelike mitologie is die mites wat verbind word met die Christendom. Die term omvat 'n groot verskeidenheid legendes en verhale, veral dié wat as heilige verhale beskou word. Mitologiese temas en elemente kom deur die hele Christelike letterkunde voor, insluitende herhalende mites soos die klim van 'n berg, gevegte, reise na die onderwêreld, vertellings van 'n god wat sterf en herrys, vloedmites, stories oor die stigting van 'n stam of stad, en mites oor groot helde (of heiliges) van die verlede, die paradys en selfopoffering.

Verskeie skrywers het dit ook al gebruik om te verwys na ander mitologiese en allegoriese elemente wat in die Bybel voorkom, soos die storie van die leviatan (watermonster). Die term is ook al gebruik vir mites en legendes van die Middeleeue, soos die storie van Sint Joris en die draak, die stories van koning Arthur en sy ridders van die ronde tafel, en die legendes van die Parsival. Baie kommentators het John Milton se epiese gedig Paradise Lost as Christelike mitologie geklassifiseer. Die term is ook al toegepas op moderne stories wat om Christelike temas en motiewe wentel, soos die werk van C.S. Lewis, J.R.R. Tolkien, Madeleine L'Engle en George MacDonald.

Deur die eeue het die Christendom in baie verskillende denominasies verdeel. Nie al dié denominasies het dieselfde stel heilige verhale nie. So sluit die boeke wat deur die Rooms-Katolieke Kerk en die Oosters-Ortodokse Kerk aanvaar word, 'n aantal tekste en stories in (soos dié wat in Judit en Tobit vertel word) wat die Protestantse kerke nie as kanonieke werke aanvaar nie.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy