Digvorm

'n Digvorm verwys slegs na 'n soort gedig wat 'n bepaalde stel reëls volg. Die reël kan byvoorbeeld 'n bepaalde aantal lyne, die lengte of aantal strofes, 'n spesefieke rymskema of onderwerp, of enige ander reël wat 'n erkenbare vorm kan bepaal.

Die vorm van die teks kry by gedigte heelwat aandag. Tot die vorm behoort onder andere klank, rymskemas, tradisionele stylfigure soos die enjambement, strofes, beeldspraak, metrum, ritme en tipografie. Dit is egter nie noodsaaklik dat al hierdie elemente in ’n gedig gevind kan word nie. ’n Gedig hoef nie te rym nie, dit hoef nie ’n vaste metrum of rymskema te hê om ’n gedig te wees nie.[1]

Die gedig word dikwels onderskei van prosa, omdat gedigte tradisioneel in versvorm geskryf word en dus nie ’n deurlopende verhaallyn het nie. Daar is egter wel sogenaamde prosagedigte en sommige gedigte het ook stukke prosateks. In die algemeen is poësie as genre daarom moeilik om te definieer en af te baken.

Ook oor die inhoud van gedigte is daar min wat in die algemeen gesê kan word. ’n Gedig kan emosies, toestande, gebeurtenisse, prosesse, idees, waarnemings, taal ens. oproep, beskryf, bevat en/of problematiseer. Die inhoud is in elk geval irrelevant om te bepaal of ’n taalteks ’n gedig is. Daar kan wel vasgestel word watter soort gedig ter sprake is.

Tog is dit duidelik dat digkuns wel ’n woordkunswerk is.

Die lengte van gedigte varieer: daar is gedigte wat slegs uit 1 woord bestaan, maar daar bestaan ook gedigte van honderde bladsye lank.

Sommige gedigte maak deel uit van ’n siklus.

Die skrywer van ’n gedig word ’n digter genoem. Daar moet duidelik onderskei word tussen die skrywer/digter en die spreker in die gedig.

Verder kan onderskei word tussen die volgende elemente van gedigte: genre, titel en tema, atmosfeer en gevoelens, klankherhaling (alliterasie en assonansie, rym en ritme), klanknabootsing, verskillende soorte beeldspraak (vergelyking, metafoor en personifikasie).

  1. Kruger, E. 2016.Klaskenades: Verrykende idees vir die onderrig van poësie. Ongepubliseerde klasaantekeninge vir Hons. B.Ed-module. Stellenbosch Universiteit.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy