Ertjie | |
---|---|
Ertjies omsluit deur 'n saadpeul. | |
Ertjieplant: Pisum sativum | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Plantae |
Klade: | Tracheofiete |
Klade: | Angiospermae |
Klade: | Eudicots |
Klade: | Rosids |
Orde: | Fabales |
Familie: | Fabaceae |
Genus: | Pisum |
Spesie: | P. sativum
|
Binomiale naam | |
Pisum sativum | |
Sinonieme[1] | |
|
'n Ertjie verwys gewoonlik na die klein sferiese saad of die saadpeul van die peulvrug Pisum sativum. Elke peul bevat verskeie ertjies, wat groen of geel kan wees. Botanies gesien, is ertjiepeule vrugte, [2] aangesien dit sade bevat en ontwikkel uit die ovarium van 'n (ertjie) blom. Die naam word ook gebruik om ander eetbare sade van Fabaceae, ook bekend as Leguminosae, die peuldraende familie wat hoort tot die orde Fabales, te beskryf, soos bv. Cajanus cajan, Vigna unguiculata en die sade van verskillende soorte Lathyrus.
P. sativum is 'n eenjarige plant met 'n lewensiklus van een jaar. Die gewas groei in die koel seisoen en word in verskeie wêrelddele verbou. Dit kan vanaf die winter tot die vroeë somer geplant word, afhangende van die ligging. Die gemiddelde ertjie weeg tussen 0,1 en 0,36 gram. [3] Onvolwasse ertjies word as groente (vars, bevrore of in 'n blik) verbruik; variëteite van die spesies wat gewoonlik veld-ertjies genoem word, word gekweek om droë ertjies te produseer, soos die gesplete ertjie (in Engels "split pea") wat uit 'n volwasse peul gedop word. Dit vorm die basis van ertjiesop, wat tydens die Middeleeue 'n stapelvoedselsoort was; in Europa het die verbruik van vars, onvolwasse groen ertjies 'n vernuwing in die vroeë moderne kookkuns daargestel.
Die wilde ertjie is beperk tot die Mediterreense gebied en die Midde-Ooste. Die vroegste argeologiese vondste van ertjies dateer uit die Laat-Neolitiese era in die teenswoordige Griekeland, Sirië, Turkye en Jordanië. In Egipte in die Nyldelta-gebied dateer vroeë vondste uit c. 4800–4400 v.C. en vanaf c. 3800–3600 v.C. in Bo-Egipte. Die ertjie was ook teenwoordig in Georgië in die 5de millennium v.C. Verder oos is die vondste jonger. Ertjies was in Afghanistan teenwoordig teen c. 2000 v.C; en in die Harappan-beskawing rondom die hedendaagse Pakistan en westelike en noordwestelike Indië teen 2250–1750 v.C. In die tweede helfte van die 2de millennium v.C. verskyn hierdie peulgewas in die Ganges-kom en suidelike Indië. [4]