Geelsug

Geelsug
Klassifikasie en eksterne bronne
’n Gelerige kleur veroorsaak deur hepatiese geelsug.
’n Gelerige kleur veroorsaak deur hepatiese geelsug.
ICD-10 R17
ICD-9 782.4
DiseasesDB 7038
MedlinePlus   003243
MeSH D007565
Mediese waarskuwing

Geelsug (Engels Jaundice, van jaune, Frans vir geel) is 'n aandoening waartydens die vel en slymvliese 'n gelerige kleur kry. Die oorsaak hiervan is 'n oormaat galpigment (bilirubien) in die bloed. Daar word algemeen tussen drie tipes geelsug onderskei:

  • Hemolitiese geelsug word veroorsaak deur abnormale bloedafbreking as gevolg van onder andere vergiftiging, bloedsiektes of die toedoening van die verkeerde tipe bloed gedurende 'n bloedoortapping.
  • Obstruktiewe geelsug ontstaan weens die afsluiting van die galbuise. Dit kan deur galstene of deur 'n ander obstruksie soos 'n gewas veroorsaak word. Die opgedamde bilirubien en gal kan dan nie op die normale manier uit die bloed geskei word nie.
  • Gedurende hepatiese geelsug is die lewer nie in staat om bilirubien uit die bloed te verwyder nie, as gevolg van een of ander aandoening van die lewer. Die algemeenste aandoening is die virusinfeksie hepatitis A en B.

Soos vermeld, veroorsaak geelsug dat die vel en die slymvliese van 'n geelsuglyer 'n geel kleur kry as gevolg van 'n abnormaal hoë gehalte van bilirubien (galkleurstof of galpigment). Geelsug tree te voorskyn as die bilirubiengehalte van die bloed vier keer hoër is as normaal. Die eerste simptoom daarvan kan in die sklerae of wit van die oë waargeneem word.

Bilirubien is 'n afbrekingsproduk van hemoglobien of rooi bloedkleurstof. Hemoglobien maak die opneem van suurstof in die longe en die vervoer daarvan deur die liggaam moontlik. Wanneer die hemoglobien vrygelaat word uit afgebreekte rooibloedliggaampies, word dit omgesit in biliverdien, wat yster bevat. Hierná word yster en globien afgesplit en word biliverdien gereduseer tot bilirubien. Hierdie chemiese reaksies vind plaas in die selle van die retikuloëntoteliale stelsel (RES), 'n netwerk van selle met 'n ingewikkelde funksie. Die grootste konsentrasie daarvan kom in die beenmurg en milt voor, maar word ook elders in die liggaam gevind.

Bilirubien word deur die bloed na die lewer gevoer. Die Nederlandse internis Albert Abraham Hijmans van den Bergh (1869-1943) het in 1917 ontdek dat bilirubien, wat deur die lewer saam met die gal uitgeskei word, 'n ander chemiese samestelling het as dié bilirubien wat nog nie deur die lewer uitgeskei is nie. Dit het geblyk dat bilirubien in die lewer gekoppel word aan glukuronsuur. Hierdie bilirubien word gekonjugeerde of saamgestelde bilirubien genoem, in teenstelling met gewone bilirubien. Dit is onder andere van belang by die onderskeiding van meganiese en dinamiese geelsug. Eersgenoemde word veroorsaak deur stuwings in die galgange of as die lewerweefsel beskadig word, en die tweede deur verhoogde bloedafbreking of deur lewerweefsel wat swak funksioneer.

Dinamiese geelsug word gekenmerk deur te veel gewone bilirubien in die bloed, terwyl daar by meganiese geelsug te veel saamgestelde bilirubien in die bloed is. Die galkleurstof word saam met die gal in die derm uitgestort as 'n reaksie op die teenwoordigheid van voedsel. Deur bakterieë, wat altyd in groot getaIIe in die derm voorkom, word die saamgestelde bilirubien gereduseer tot urobiliogeen. Daaruit ontstaan weer mesobilirubinogeen en sterkobilinogeen. 'n Deel van die sterkobilinogeen word weer deur die dermwand in die poortaarstelsel opgeneem, waar dit of direk met die gal uitgeskei word of tot bilirubien geoksideer word. 'n Derde moontlikheid is dat sterkobilinogeen afgeskei word in die bloedvate wat uitmond in die onderste holaar en dan deur die niere uitgeskei word. Hierdie prosesse geskied gelyktydig in die liggaam. Die voedselreste en dooie bakterieë word laer af in die derm volledig met sterkobilinogeen gemeng, waaraan die kleur van die ontlasting toe te skryf is. Die kleurlose uro- en sterkobilinogeen word gereduseer tot 'n oranjebruin gekleurde urobilien en sterkobilien. Die siklus van die galkleurstof (derm-poortaar-Iewer-derm) word die interohepatiese kringloop (enteron="derm" , hepar="lewer") genoem. In hierdie siklus kan 'n aantal afwykings voorkom wat verantwoordelik is vir verskillende soorte geelsug.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy