Giftigheid

Giftigheid of toksisiteit is die mate van skadelikheid wat 'n sekere stof vir mense, diere of ander organismes besit.[1]

Daar word onderskei tussen:

  • die akute giftigheid—skade wat die organisme ondergaan deur 'n enkele blootstelling daaraan
  • die subchroniese giftigheid—die stof se vermoë om deur blootstelling gedurende 'n jaar (maar minder as die organisme se lewensduur) skade te veroorsaak
  • die chroniese giftigheid—die effekte van lang, soms lewenslank daaraan blootgestel te wees

Daar word van vergiftiging gepraat wanneer 'n stof skadelike effekte by 'n persoon teweegbring. Omdat so baie stowwe giftig is as dit in voldoende hoeveelhede in die liggaam beland, is dit moeilik om ʼn vaste definisie van 'n gif te gee. Noodhulp by akute vergiftiging is daarop gerig om sover moontlik te verhinder dat die gif in die bloed opgeneem word (deur byvoorbeeld die pasiënt te laat braak). 'n Stof word meestal as 'n gif beskou indien dit in relatief klein hoeveelhede groot risiko's vir die gesondheid inhou.

Paracelsus (1493-1541) het reeds opgemerk dat alle stowwe giftig kan wees indien dit in 'n groot dosis deur die liggaam opgeneem word. Die aanwesigheid van 'n giftige stof in die liggaam beteken dus nog nie dat daar sprake van ʼn vergiftiging is nie. Alle mense het klein hoeveelhede DDT, lood en kwik in hul liggame, maar die dosis is so klein dat geen vergiftiging intree nie (subtoksiese dosis). Eers wanneer 'n stof skadelike effekte by die gebruiker teweegbring, word dit as vergiftiging beskou.

Die wetenskap wat hom besig hou met die studie van gifstowwe, heet toksikologie. Een van die eerste moderne toksikoloë was die Fransman Claude Bernard (1813-1878), wat die pylpuntgifstowwe van die Indiane bestudeer het. 'n Belangrike begrip in die toksikologie is LD-50. Dit is die dosis waardeur 50 % van die proefdiere wat gifstof toegedien is, sterf. 'n Sterk gif-besit 'n lae LD-50, terwyl 'n swak gif 'n hoë LD-50 het (LD is die afkorting vir letale (dodelike) dosis).

Die meeste gifstowwe word via die mond opgeneem of ingeasem, maar sommige (byvoorbeeld paration, 'n insektegif) kan ook deur die onbeskadigde vel die liggaam binnedring. Verder kan daar onder sekere omstandighede metaboliese produkte (wat normaalweg afgebreek en uitgeskei word) in die liggaam ophoop en vergiftiging veroorsaak. Voorbeelde hiervan is asidose (die ophoping van sure in die bloed) en uremie (verhoogde terughouding van ureum, 'n afbraakproduk van proteïene). By die behandeling van 'n vergiftiging is dit belangrik om die opname van die gif deur die liggaam te verminder of te vertraag en die uitskeiding daarvan te versnel. By akute vergiftiging waar die gif deur die mond ingeneem en nog in die maag is, kan die stof verwyder word deur braking of maagspoeling. Braking is egter nie aan te beveel wanneer daar sprake is van vergiftiging met sterk sure of alkalië wat 'n vretende uitwerking op die slukderm het nie. Die pasiënt moet eerder melk of styfgeklitste eierwitte ingegee word wat die gif absorbeer sodat dit nie in die bloedstroom beland nie.

As die gif al opgeneem is, moet daar anders te werk gegaan word. By die meeste metaalverbindings is detoksifikasie (ontgiftiging) moontlik deur verbindings te laat vorm met EDTA (etileendiamien-eterasetaat). Arseen en kwik vorm verbindings met BAL (dimerkaprol) en verloor daardeur hul toksiese eienskappe. Naas die genoemde teengiwwe wat die gif onskadelik maak deur 'n chemiese verbinding daarmee te vorm, bestaan daar ook teengiwwe wat die werking van die gif teëwerk, byvoorbeeld nalorfien, wat by morfienvergiftiging gebruik kan word. Baie gifstowwe besit egter geen teengifstowwe nie en net die siekteverskynsels wat deur die gif veroorsaak word, kan bestry word.

  1. "medicine net" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Januarie 2019.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy