Goudrifstad (Engels: Gold Reef City) is 'n pretpark in Johannesburg, Suid-Afrika wat in die 1980’s op 'n ou goudmyn gebou is.[1] Die tema van die park is deur die goudstormloop aan die Witwatersrand geïnspireer. Parkpersoneel dra uniforms wat ooreenkomste toon met die van die 1880's en die geboue in die park is ontwerp om dieselfde tydperk na te boots.
Vir 'n minimale bedrag kan 'n ondergrondse toer deur 'n werkende goudmyn onderneem word, waarna die gooi van 'n werklike goudstaaf deur die mynpersoneel aanskou kan word.[2] Daar is ook 'n museum op die terrein oor die goudmynbedryf.
Daar is ook vele pretritte by Goudrifstad, onder andere waterritte en mallemeules. Die regstreekse uitsendings van Idols word in die "hippodrome", 'n groot ouditorium in die park, verfilm.
Goudrifstad is in die suide van 'n sakegebied langs die M1-snelweg geleë. Dit is ook die tuiste van die Apartheidsmuseum.