Die Groot Migrasie, ook bekend as die Groot Noordwaartse Migrasie of die Swart Migrasie, was die beweging van ses miljoen Afro-Amerikaners tussen 1910 en 1970 uit die plattelandse Suidelike state van Amerika na die stedelike Noordooste, Midweste en Weste.[2] Dit was hoofsaaklik die gevolg van die swak ekonomiese toestande vir Afro-Amerikaners, sowel as die heersende rasseskeiding en -diskriminasie in die Suidelike state, waar Jim Crow-wette gegeld het.[3][4] Veral voortdurende lynchteregstellings het 'n deel van die migrasie tot gevolg gehad, omdat Afro-Amerikaners sosiale verligting gesoek het.
Die historiese verandering wat deur die migrasie teweeggebring is, is vergroot omdat die migrante hoofsaaklik na die grootste stede van destyds (New York, Chicago, Detroit, Los Angeles, Philadelphia, Cleveland en Washington) getrek het in 'n tyd toe daardie stede 'n sentrale kulturele, sosiale, politieke en ekonomiese invloed op die VSA gehad het.[5] In dié stede het Afro-Amerikaners hulle eie invloedryke gemeenskappe geskep.[5]