Iwan IV van Rusland

Iwan IV
Tsaar van die hele Rusland
'n Gesigsrekonstruksie van Iwan die Verskriklike, deur Michail Gerassimof
'n Gesigsrekonstruksie van Iwan die Verskriklike, deur Michail Gerassimof.
Dinastie Rjoerik
Bewind 1547-1584
Kroning 16 Januarie 1547
Volle naam Iwan Wasilijewitsj
Gebore 25 Augustus 1530
Moskou
Gesterf 18 Maart 1584
Moskou
Voorganger Wasili III
Opvolger Fjodor I
Gade Anastasia Romanowna Zacharina-Joerijewa en vyf ander
Vader Wasili III
Moeder Jelena Glinskaja

Iwan IV Wasilijewitsj (Russies: Иван IV Васильевич) (25 Augustus 1530 - 18 Maart 1584) was van 1533 tot 1547 grootprins van Moskowië en van 1547 tot met sy dood die eerste amptelike tsaar van Rusland.[1] Hy is beter bekend as Iwan die Verskriklike (Russies: Иван Грозный, letterlik Iwan die Ontsagwekkende of Formidabele).[2][3] Iwan se bewind is gekenmerk deur Rusland se oorgang van 'n Middeleeuse staat tot 'n ryk, maar teen 'n ontsaglike prys vir sy volk en vir die land se ekonomie op lang termyn.

Iwan was die oudste seun van Wasili III by sy tweede vrou, Jelena Glinskaja, en 'n kleinseun van Iwan III. Hy het sy pa ná dié se dood opgevolg toe hy drie jaar oud was. 'n Groep hervormers het in 1547 om Iwan byeengekom en hom as tsaar gekroon toe hy 16 jaar oud was. In die vroeë jare van sy bewind het Iwan saam met 'n groep hervormers bekend as die Verkose Raad regeer en die Zjemski Sobor as 'n nuwe vergadering gestig. Hy het ook die regskode hersien en hervormings ingestel, insluitende elemente van plaaslike selfregering. Verder het hy die eerste Russiese staande mag, die streltsi, gestig. Iwan het die khanate Kazan en Astrachan verower en Rusland se gebied aansienlik uitgebrei.

Nadat hy sy mag gekonsolideer het, het Iwan ontslae geraak van sy raadgewers in die Verkose Raad en die Lyflandse Oorlog van 1558 tot 1583 begin. Dit het Rusland verwoes weens 'n onvermoë om beheer oor Lyfland te neem en die verlies van Ingrië, maar hom in staat gestel om groter outokratiese beheer oor die Russiese adel te kry. Hy het dit gewelddadige reggekry met behulp van Rusland se eerste politieke polisie, die opritsjniki. Die latere jare van Iwan se bewind is gekenmerk deur die slagting van Nowgorod en die afbrand van Moskou deur die Tartare. Iwan het ook kulturele verbeterings aangebring, soos die invoer van die eerste rolpers, en verskeie prosesse begin wat vir eeue sou duur, soos die verbetering van bande met ander Europese state, veral Engeland, oorloë teen die Ottomaanse Ryk en die geleidelike oorwinning van Siberië.

Kontemporêre bronne het uiteenlopende menings van Iwan se komplekse persoonlikheid gegee. Hy is beskryf as intelligent en toegewy, maar ook geneig tot paranoia, woede en oomblikke van geestelike onstabiliteit, wat met die ouderdom vererger het.[4][5][6] Historici glo hy het sy oudste seun en erfgenaam, Iwan Iwanowitsj,[7] in 'n woedeaanval vermoor, en hy was dalk ook verantwoordelik vir die miskraam van laasgenoemde se ongebore kind. Dit het veroorsaak dat sy jongste seun, die polities onbekwame Fjodor Iwanowitsj, die troon geërf het – 'n man wie se bewind en kinderlose dood regstreeks gelei het tot die einde van die Rjoerik-dinastie en die begin van die Tyd van Beroeringe.

  1. "Ivan IV the Terrible, Tsar of Russia". Renaissance and Reformation. 13 Januarie 2014. doi:10.1093/OBO/9780195399301-0099.
  2. "Иван Васильевич Грозный". www.hrono.ru. Besoek op 20 Augustus 2021.
  3. ""Иван Грозный — первый русский модернист"". Год Литературы (in Russies). Besoek op 20 Augustus 2021.
  4. Shvidkovskiĭ, Dmitriĭ Olegovich (2007) Russian Architecture and the West. Yale University Press. p. 147. ISBN 0300109121.
  5. Yanov, p. 208
  6. Del Testa, David W. (2001) Government Leaders, Military Rulers and Political Activists. Greenwood Publishing Group. p. 91. ISBN 1573561533
  7. Perrie & Pavlov 2014, p. 192.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy