Kampioenetrofee 2017

Kampioenetrofee 2017

Kenteken van die Kampioenetrofee 2017
Datums 1 Junie – 18 Junie
Bestuurder Internasionale Krieketraad (IKR)
Krieketformaat Internasionale eendagkrieket (EDI)
Toernooiformaat Groep- en uitklopfase
Gashere Vlag van Engeland Engeland
Vlag van Wallis Wallis
Kampioen Vlag van Pakistan Pakistan (1ste titel)
Naaswenner Vlag van Indië Indië
Deelnemers 8
Wedstryde gespeel 15
Speler van die reeks Vlag van Pakistan Hasan Ali
Meeste lopies Vlag van Indië Shikhar Dhawan (338)[1]
Meeste paaltjies Vlag van Pakistan Hasan Ali (13)[2]
2013
2025

Die Kampioenetrofee 2017 (Engels: 2017 ICC Champions Trophy) is van 1 tot 18 Junie 2017 in Engeland en Wallis beslis. Dit was die agtste Kampioenetrofee in EDI-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is.

Die toernooi se formaat van 2009 en 2013 het onveranderd gebly en die destydse agt beste nasionale spanne op die EDI-ranglys het aan die Kampioenetrofee 2017 deelgeneem: Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Suid-Afrika. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet.

Bangladesj, Engeland, Indië en Pakistan het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Indië het Bangladesj en Pakistan het Engeland geklop, waardeur die twee aartsvyande Indië en Pakistan in die eindstryd ontmoet het. In die eindstryd op The Oval in Londen het Pakistan die verdedigende kampioen Indië met 180 lopies verslaan en sodoende sy eerste Kampioenetrofeetitel gewen. Saam met hul oorwinning tydens die Krieketwêreldbeker 1992 en die T20I-wêreldbeker 2009 was dit Pakistan se derde internasionale kriekettitel. Suid-Afrika is reeds in die groepfase uitgeskakel

Die laaste Kampioenetrofee sou oorspronklik in 2013 aangebied word en dié toernooi sou van 2017 af met die Wêreldtoetskampioenskap vervang word.[3] In Januarie 2014 is dié plan egter herroep en aangekondig dat in 2017 wel ’n Kampioenetrofee sal plaasvind en die Wêreldtoetskampioenskap gekanselleer is.[4] In 2016 het die Internasionale Krieketraad aangekondig dat die Kampioenetrofee na 2017 geskrap sal word om aan die IKR se doelwit te voldoen om vir elke krieketformaat een toernooi te hê.[5] In November 2021 het die IKR bekend gemaak dat die Kampioenetrofee in 2025 weer sal plaasvind en in Pakistan aangebied word.[6]

Oorspronklik was in die tydstip die Wêreldtoetskampioenskap in Engeland beplan.[7] Nadat daar nie op ’n geskikte formaat vir dié toernooi besluit kon word nie, is in Februarie 2014 aangekondig om nog ’n Kampioenetrofee aan te bied.[4] In aanloop tot die toernooi het daar ’n konflik ontstaan binne die IKR oor die verdeling van die finansiële middele, met Indië wat gedreig het om toekomstige IKR-toernooie soos die Kampioenetrofee te boikot.[8] Vervolgens het die Indiese beheerliggaam Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI) die sperdatum vir die indiening van die Indiese span laat verstryk.[9] Ná twee weke se vertraging en op druk deur mediavennote het die BCCI wel ’n span vir die toernooi bekend gemaak.[10]

  1. (en) "Records in ICC Champions Trophy, 2017 – Most Runs". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  2. (en) "Records in ICC Champions Trophy, 2017 – Most Wickets". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  3. (en) Tariq Engineer (17 April 2012). "No Champions Trophy after 2013". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  4. 4,0 4,1 (en) "No Test Championship, Champions Trophy to continue: ICC". Zee News. 8 Februarie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Desember 2021. Besoek op 8 Desember 2021.
  5. (en) "Test Championship to replace Champions Trophy". ESPNcricinfo. 29 Junie 2013. Besoek op 25 Junie 2023.
  6. (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  7. (en) "ICC confirms World Test Championship in England in 2017". BBC. 19 Junie 2013. Besoek op 25 Junie 2023.
  8. (en) "ICC's $400 million offer 'far less than what India deserves'". ESPNcricinfo. 30 April 2017. Besoek op 25 Junie 2023.
  9. (en) Sidharth Monga, Nagraj Gollapudi (26 April 2017). "India miss Champions Trophy squad submission deadline". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  10. (en) "Rohit, Ashwin, Shami return for Champions Trophy". ESPNcricinfo. 8 Mei 2017. Besoek op 25 Junie 2023.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy