Kasteel die Goeie Hoop

Anoniem. 't Casteel de Goede Hoop. 1674. Den Haag, Algemeen Rijksarchief
Hoofingang na die kasteel, 2007
Hoofingang van die Kasteel die Goeie Hoop
Die Kasteel gesien vanaf die Media24-sentrum, 2016

Die Kasteel die Goeie Hoop (Nederlands: Kasteel de Goede Hoop) in Kaapstad is die oudste gebou uit die blanke vestigingstyd in Suid-Afrika. Die vesting is tussen 1666 en 1679 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gebou, en het 'n klein klei- en houtfort vervang wat deur Jan van Riebeeck, stigter van die halfwegpos aan die Kaap die Goeie Hoop, gebou is in 1652.

In 1664 was daar 'n oplewing van gerugte van oorlog tussen die Koninkryk van Groot-Brittanje en die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande en daar was vrese vir 'n Britse aanval op die Nederlandse Kaapkolonie. Gedurende dieselfde jaar is kommandeur Zacharias Wagenaer beveel om 'n vyfpunt klipkasteel te bou. In 1665 is die bougrond gekies en uitgemeet. Pieter Dombaer, ingenieur, het saam met ander vakmanne die bouwerke voorberei. Op 2 Januarie 1666 is die vier hoekstene gelê deur goewerneur Zacharias Wagenaar. Douwe Gerbrandt Steyn, baasmesselaar, het sedert 1672 'n sleutelrol vervul in die bou van die Kasteel. Sy naam, saam met die van Pieter Dombaer, word vermeld op die gedenkbord wat tans by die ingang na die Kasteel te sien is. Op 26 April 1679 is die vyf bastions (punte) genoem na die hooftitel van Willem, die Prins van Oranje. Die westelike bastion is genoem Leerdam; kloksgewys gevolg deur Buuren, Catzenellenbogen, Nassau en Oranje.

In 1682 vervang die hekopening die ou ingang wat aan die see gefront het. Die kloktoring, geleë bo die hoofingang is gebou in 1684. Die oorspronklike klok, die oudste in Suid-Afrika, is gegiet in Amsterdam in 1697 deur Claude Fremy en weeg 300 kg. Dit was gebruik om die ure aan te dui en burgerlikes te waarsku in geval van gevaar en kon tot 10 km ver gehoor word. Dit was ook gelui om inwoners en soldate vir belangrike aankondigings saam te roep.

Binne die mure van die Kasteel was daar onder andere 'n kerk, bakkery, werkswinkels, leefkwartiere, winkels, selle en 'n verskeidenheid ander fasiliteite. Die geel verf op die mure was gekies omrede sy vermoë om hitte en fel sonlig te verminder. 'n Muur verdeel die binnehof van die kasteel. Die verdeling is gedoen om inwoners te beskerm in geval van 'n aanval. Die bekende Katbalkon is 'n uitstaande kenmerk van die verdelingsmuur. Die oorspronklike balkon is gebou in 1695 en is herbou in sy huidige vorm deur die VOC tussen 1786 en 1790. Vanaf die balkon is aankondigings gedoen aan soldate, slawe en burgers van die Kaap. Die balkon lei na die beroemde William Fehr-versameling van historiese skilderye en outydse meubels, wat betrekking het op die Kaap die Goeie Hoop.

In 1936 is Kasteel die Goeie Hoop tot 'n nasionale monument verklaar. As gevolg van 'n uitgebreide restourasieproses wat van stapel gestuur is in die 1980's, is die Kasteel die Goeie Hoop die bes bewaarde fort van sy soort wat gebou is deur die VOC waar dit belange gehad het.

Die Kasteel die Goeie Hoop was die plaaslike hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Weermag in die Wes-Kaap en huisves die militêre museum en seremoniële fasiliteit vir tradisionele Kaapse Regimente. Die Kasteel die Goeie Hoop is tussen Kaapstad-hawe en Tafelberg geleë.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy